Una Pick: Una trap groot spore in haar gemeenskap

Aangename kennis

Una Pick het grootgeword op die geskiedkundige dorpie Mamre tussen Darling en Atlantis wat ontwikkel het rondom ’n Morawiese sendingstasie. Una is ’n gekwalifiseerde musiekonderwyseres en in 1976, toe die eerste skool in Atlantis oopgemaak het, het sy daar begin skoolhou. Sy lag en sê in die bruin gemeenskap was dit ’n uitsonderlike prestasie om, met die FAK onder die arm, musiek as vak te onderrig. Na twintig jaar is sy in 1996 uit die onderwys na die politiek waar sy vir 15 jaar as raadslid gedien het en ywerig in die gemeenskap gewerk het. Una en haar man woon steeds op Mamre en hulle is die grootouers van ’n kleinseun vir wie hulle baie lief is. Una is tans ook ’n toeroperateur en agent vir ’n maatskappy wat bootvaarte op luukse passasiersbote onderneem.

Hoe lyk haar Afrikaans?

“My Afrikaans, ” sê Una, “lyk soos iemand wat op die groen gras in die vlei lê, omring met die mooiste varkore en ’n waterstroompie wat oor die klippe kabbel.”

Hoe leef sy in Afrikaans?

Una sê haar leefwêreld is Afrikaans: sy sing in Afrikaans, bid in haar taal, eet Afrikaans en leef die taal. Daar is deesdae nie net meer Afrikaanssprekendes in Mamre nie, maar hopelik sal die kleurryke taal van hierdie gebied, met uitdrukkings soos: Hy is warm gehardloop met koue boude, nooit in onbruik raak nie

Una se projek:

Una het as oudonderwyser ’n leemte raakgesien en twee keer per week lees sy stories vir die kinders van die laerskole in Mamre en Atlantis. Haar voorlesing bied sy so aan dat die kinders bewus word van die wonderwêreld wat in boeke opgesluit is. Terselfdertyd leer die kinders soveel meer oor dissipline, respek, gehoorsaamheid en selfvertroue. Die kinders word ook aangemoedig om aan te sluit by die biblioteek. Una droom daarvan dat instansies geld sal bewillig om hierdie kinders bloot te stel aan die wêreld daar buite met uitstappies na plekke soos Tygerberg-dieretuin, ’n hospitaal en groter biblioteke. Skenkings van boeke is ook baie welkom.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Una by unapick8@gmail.com