Tracey Lange se Afrikaans blom

Aangename kennis

Tracey Lange, die pragtige aanbieder van Bravo! het grootgeword in Somerset-Wes en gematrikuleer aan Hoërskool Hottentots-Holland. Tracey het ná skool gaan werk by ’n regsfirma en deeltyds ’n LL B-graad ontvang. Iemand het haar op ’n dag aangemoedig om iets anders te doen wat vir haar lekker is, en nie bloot die hele dag te werk nie. Tracey het ingeskryf vir ’n kursus in TV-aanbieding en ’n week later het haar ma voorgestel dat sy by Radio Helderberg, ’n gemeenskapsradiostasie in die Kaap, aanklop en vra of sy dáár ondervinding kan opdoen. Na ’n paar maande was Tracey voltyds op die lug. Van Radio Helderberg het sy geskuif na Good Hope FM en sy het mettertyd vir ’n rukkie ’n pos as aanbieder by Pasella gekry. Toe daar begin is met die planne van ’n glansprogram wat fokus op die doen en late van die bekendes in ons land, Bravo!, is Tracey genader en sy het dadelik ingestem om een van die aanbieders te wees. Weeksdae behartig Tracey ’n radioprogram op Heart FM in die Kaap en tussendeur doen sy die Bravo!-geleenthede en onderhoude. Avukile Mabombo is die spesiale man in haar lewe. Sy reis graag en deel ook heerlike wegbreekplekke op haar reisblog, Travul Diary.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Tracey sê haar Afrikaans is soos ’n veld propvol kleurvolle veldblommetjies. Sonder enige moeite blom dit spontaan en oordadig.

Hoe leef sy Afrikaans?

Alhoewel Heart FM meestal ’n Engelse radiostasie is en sy merendeels Engels op die program praat, het sy ’n tyd gelede besluit om doelbewus ook na die Afrikaanse luisteraars uit te reik. Die terugvoer op die Afrikaanse musiek wat sy in die oggend speel, is altyd oorweldigend positief. Vir Tracey is dit besonder belangrik dat jy moet trots wees op wie en wat jy is en indien dit beteken dat jou taal Afrikaans is, dan moet jy trots wees daarop.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Tracey Lange: Tracey@HeartFM.co.za