Theuns Eloff

Theuns Eloff: Baanbreker en touleier

Potchefstroom het deur die jare bekend geraak vir veel meer as die wilgerbome langs die Mooirivier. Een van Potchefstroom se seuns wat reuse treë in die Suid-Afrikaanse samelewing gegee het, is Theuns Eloff. Hy skryf matriek aan Potchefstroom Gimnasium en begin sy studies aan die universiteit, toe nog bekend as die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy voltooi sy Bjuris-graad, maar het reeds in sy derde jaar geweet hy wil nie in die regswese ingaan nie. Hierna begin hy met sy teologiese studies aan die PU vir CHO. In sy tydperk as student, word hy verkies tot die studenteraad en vanaf 1977 tot 1979 was hy die SR-voorsitter. Dit was in hierdie tydperk wat hy betrokke geraak het by die opstel van die Koinonia-verklaring waarin apartheid gekritiseer is. Toe die universiteitsraad vir Theuns en ander betrokkenes vra om die verklaring terug te trek, het hy geweier.

Theuns was vanaf 1983 predikant by die Brooklyn Gereformeerde Kerk, ’n studentegemeente. In 1987 nooi Frederik van Zyl Slabbert Theuns uit om deel te word van ’n delegasie wat met lede van die ANC, wat op daardie tydstip in ballingskap was, in Dakar, Senegal, te gaan gesels. Met sy terugkeer het Theuns onder fel kritiek deurgeloop. Vir Theuns was Dakar ’n waterskeiding, want hy het meteens besef hy kan sy roeping nie net inperk tot een gemeente nie; daar het ander dinge op hom gewag.

Nadat hy in Februarie 1989 uit die bediening getree het, het hy aangesluit by ’n groep sakemense wat hulle vir ’n vreedsame oorgang na ’n nuwe bestel beywer het. As uitvoerende direkteur van die Consultative Business Movement (CBM) het hy ’n kernrol gespeel in die vredesproses wat tot die Nasionale Vredesooreenkoms in 1991 gelei het. By KODESA, die veelparty-onderhandelinge in Maart 1993, was hy administratiewe hoof. Vir die rol wat hy in die onderhandelinge gespeel het, het hy verskeie toekennings verwerf onder meer die Harvard Besigheidsklub se Staatsman van die Jaar-toekenning.

In Februarie 1995 is Theuns aangestel as die Uitvoerende Hoof van die Nasionale Besigheidsinisiatief (NBI) en onder sy leierskap het die NBI ’n beduidende bydrae gemaak tot die ontwikkeling van die nuwe Suid-Afrika.

Theuns word in 2002 aangestel as die rektor en visekanselier van sy alma mater. Hy wys weereens die pas aan met onderhandelings oor die samesmelting tussen die Universiteit van Noordwes en die PU vir CHO. Hierdie samesmelting tot die Noordwes-Universiteit is ’n reuse sukses. Op 1 Januarie 2004 kom die NWU amptelik tot stand, met dr Eloff as die eerste visekanselier.

Theuns het met die idee van opvoedkundige tolke na vore gekom en so gehelp om Afrikaans as onderrigtaal op die Potchefstroomkampus van die NWU te behou. In 2009 word hy vir ’n tweede termyn as visekanselier van die NWU verkies. Aan die einde van Maart 2014, twee maande voor die bestemde tyd, ontruim Theuns sy pos te midde van die bohaai oor onder meer ontgroeningspraktyke op die Potchefstroomkampus van die NWU. In September 2015 word Theuns as buitengewone professor by die Potchefstroomse Besigheidskool aangestel.

Theuns is tans voorsitter van Astral Foods, Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Op 1 Julie 2016 is hy as uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting aangestel.

Theuns speel graag gholf vir ontspanning. Sy voorliefde vir Louis L’Amour-boeke is ook wyd bekend. ’n Ander manier vir hom om weg te kom van die dolle, daaglikse gejaag is om op die familieplaas naby Dwaalboom te gaan jag waar daar altyd net ietsie vir die pot en die biltongrak, geskiet word.

Theuns het sy vrou Suzette op die Puk ontmoet en hulle het twee dogters en ’n skoonseun. Theuns en Suzette is ook oupa en ouma van drie dogtertjies wat hulle baie vreugde verskaf.

Theuns betreur die feit dat minderheidsregte tans in Suid-Afrika ontken word en Afrikaans is iets wat daaronder ly. Hy voel dit sy roeping om te sorg dat Afrikaans behoue sal bly binne die grondwetlike raamwerk wat hy help skryf het. Uit ervaring weet hy dat praat alleen nie sal help nie, maar dat indien die grondwet geminag word, sal ons die grondwetlike regte van Afrikaans in die hof moet beveg. Vir daardie geveg, sien hy kans. Hy het immers nog nooit stilgebly wanneer daar onreg gepleeg word nie.