Therien Roodt: Energieke omgee-mens

Aangename kennis

Kleintyd het Therien Roodt se ouma, Marie Bezuidenhout, haar besonder lief gemaak vir die Afrikaanse taal met al die stories en gedigte wat sy vir haar voorgelees het. Therien het aan Hoërskool Kemptonpark gematrikuleer voordat sy aan die Noordwes-Universiteit gaan studeer het. Sy het haar BA-graad in Kommunikasie Studies in 2015 met lof geslaag en in 2016 ook ʼn honneursgraad in korporatiewe kommunikasiebestuur aan dieselfde universiteit behaal. Tydens haar studies het sy as deel van ’n internskapprogram by Solidariteit Helpende Hand gewerk waar sy deel was van die loodsing van die HelpHanna-projek. Sy het oor die jare by verskeie liefdadigheidsprojekte en uitreikaksies betrokke geraak. Sy beskou haar jaar lange betrokkenheid by PUKFM se Gemeenskapskakelingskomitee as ʼn besonderse hoogtepunt. Sedert Januarie 2017 is Therien die Digitale Bemarkings-, Gemeenskaps- en Inhoudsbeampte by ATKV-Sake. Therien beplan om in 2018 haar meestersgraad in Digitale Media aan te pak. Tyd vir stilsit is daar beslis nie!

Vyf kitsfeite oor Therien

  • Therien het in 2015 ’n Golden Key-toekenning ontvang. Die Golden Key is ’n internasionale niewinsgewendeorganisasie met 400 takke in agt lande wat uitnemendheid onder begaafde studente erken.
  • Therien is in 2016 aangewys as beste honneursstudent in Korporatiewe kommunikasiebestuur. Dit het haar laat besef dat harde werk altyd beloon word.
  • Sy is die komediant, Schalk Bezuidenhout, se niggie.
  • Wanneer sy wil ontspan, is daar niks so lekker soos ’n glas rooiwyn en ’n boeiende storieboek nie.
  • Sy is dol oor sosiale media en kan haarself nie ’n wêreld daarsonder indink nie.

Therien oor Afrikaans

Therien geniet dit om as deel van haar loopbaan Afrikaans te bevorder deur kreatiewe en unieke inhoudskepping. Sy leef haarself graag in Afrikaans uit. Sy sê Afrikaans is suiwer, eg en skep ’n veilige tuiste wat deel is van haar menswees.

Haar projek

As Digitale Inhoudsbeampte by ATKV-Sake help sy tans met die ontwikkeling van ’n blog genaamd “Vanuit alle oorde”. Die doel van hierdie blog is om lesers op ’n ontdekkingsreis te neem en bied aan hulle die geleentheid om vakansiestories, vakansiepret en lewenservarings te deel. Besoek dié blog by https://www.atkvoorde.co.za/Die #HelpHanna-projek wat sy begin het, is steeds aan die gang en verskaf sanitêre ware. aan meer as 2 700 skoolmeisies in +- 99 skole regoor die land.

Maak gerus kontak

Stuur ’n e-pos aan therienr@atkv.org.za
Facebook: https://www.facebook.com/therien.roodt
Instagram: https://www.instagram.com/therienroodt/