Sybrand Harris wil Afrikaans omspit en tot op die wortel ontdek

Aangename kennis

Sybrand Harris, ’n vierdejaar veeartsenykunde-student, se liefde vir Afrikaans kronkel soos ’n goue draad reg deur sy lewe met die vertrekpunt toe hy kleintyd langs sy ouma gesit het terwyl sy vir hom Afrikaanse stories moes lees. Sybrand het aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer waar hy vir vier agtereenvolgende jare die Duxleerling was. Hy het in sy eindeksamen nege onderskeidings behaal. Dis ook hier waar sy Afrikaanse onderwyseresse sy passie vir die taal aangevuur het. Gedurende sy skooldae was hy deel van sy skool se tienertoneelgeselskap wat in 2013 die streeksuitdunne van die ATKV-Tienertoneel gewen het.

Sybrand het in 2014 ingeskryf vir ’n BVSc-graad aan die Universiteit van Pretoria. Hy is dol daaroor om in boekwinkels rond te snuffel en Afrikaanse musiekvertonings en verhoogproduksies by kunstefeeste by te woon, maar hy word ook bekoor deur die Kalahari se rooi duine en die blou water van die oseaan. Sybrand, ’n ywerige fotograaf, is ook lief om te sing en lang ente langs die see te stap.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Afrikaans is vir Sybrand om rond te rits deur ons mooi land met RSG, ’n fles koffie en padkos. Sy Afrikaans is feestelik: die KKNK met roosterkoek, Sandra Prinsloo, Laurika Rauch, Karen Zoid, die wynsaal en Meiringspoort. Dis Marita van der Vyver, Antjie Krog, Chanette Paul, Sophia Kapp, Ingrid Jonker en ’n koppie rooibostee met tuisgebakte beskuit.

Hoe leef hy Afrikaans?

Sybrand sê hy is saamgeweef uit Afrikaans en dis deel van sy alledaagse lewe. Hy skryf, dig, lees, kyk en luister graag na Afrikaans. Dis die bron waaruit hy sy menswees voed en die medium waarin hy homself die heel beste uitdruk.

Sy projek

Aan die einde van Mei 2016 het Sybrand die blad Letterling op Facebook en Instagram begin. Hier deel hy sy eie skryfwerk met belangstellendes, maar hy plaas ook aanhalings uit boeke, lirieke wat die hart roer en gedigte van bekende en onbekende digters. Sybrand gebruik die bladsy ook om soms sy gedagtes weer te gee. Hy skryf ook resensies van boeke, Afrikaanse CD’s en flieks. Met Letterling wil hy graag die skoonheid van Afrikaans in sy breedste sin op sosiale media deel.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan: sybrandharris@gmail.com
Besoek: https://web.facebook.com/letterling/
https://www.instagram.com/letter.ling/