Susanne Pike: Susanne trap spore met woorde

Aangename kennis

Susanne Pike is ’n gebore onderwyseres wat al as vyfjarige vir haar ma se roosbome skoolgehou het. Sy het grootgeword en skoolgegaan in Groblersdal, ’n plattelandse dorp in Mpumalanga. Na voltooiing van haar BA(Ed)-graad het sy in 1985 aan Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria begin skoolhou. Susanne is sedert 2004 ’n onderwyseres by Pretoria High School for Girls. Sy hou veral daarvan om jong adolessente as gebalanseerde volwassenes vir die arbeidsmark en aanslae van die lewe toe te rus. Sy is in 2002 met Wayne Pike getroud. Die twee het twee hondekinders – twee miniatuur-worsies – en ’n praatsiek papegaai. Sy hou daarvan om in die tuin te werk en te verf, en het ’n besonderse liefde vir die Afrikaanse digkuns. Sy sê sy lees Afrikaanse woordeboeke as ’n stokperdjie en beskou Gert Vlok Nel se verse as ’n romantiese aandete. Susanne se debuutdigbundel, INKSPOOR, het in Junie 2016 verskyn

Hoe lyk haar Afrikaans?

Oud en nuut, sê sy. Sy troetel graag ou woorde soos “verkneukel”, maar geniet dit ook om haar eie, ongewone samestellings te skep. Die klankrykheid van Afrikaans bekoor haar en haar muse se naam is Allitera.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Susanne eet boerbeskuit in moerkoffie vir ontbyt. Sy leef braaivleis en mieliepap. Susanne dig en skryf nét in Afrikaans en sy hou daarvan om haar met Afrikaans te omring. Daarvan getuig die tafeldoek en Afrikaanse rolprentplakkate teen haar klaskamermuur.

Haar projek?

In 2015 het Susanne begin met die skryf van Afrikaanse gedigte vir sosiale netwerke en sy het al ’n paar kompetisies gewen. Sy is lid van drie Faceboek-skryfkunsgroepe: Solovlug, Afrikaans in sy Oortreffende Trap en Traum Poetica. In Junie 2016 het haar droom waar geword toe ’n versameling van haar gedigte in haar debuutbundel, INKSPOOR opgeneem is. Die eerste oplaag van die bundel is binne een week uitverkoop.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan SPike@phsg.org.za of besoek www.kunsweb.co.za