Susan Lombaard: Sy inspireer en sorg

Ontmoet vir Susan:

As Uitvoerende Hoof van Maroela Media is sy die dryfveer agter die span wat daagliks gratis Afrikaanse nuus van uitstaande gehalte lewer.

Vir haar werknemers is sy meer as net ‘n werkgewer – sy inspireer en sorg.  Susan se geaardheid is van so ‘n aard dat sy nie anders kan as om ‘n moederfiguur te wees nie.

Susan is ‘n planmaker met baie energie en kreatiwiteit wat daarin glo om die daad by die woord te voeg. Vanweë haar joernalistieke aard, hou sy van skryf, lees en fotografie, maar geniet dit  ook om klavier te speel en saam met haar gesin te kamp.

Hoe lyk haar Afrikaans:

Sy beskou haar Afrikaans as haar “instinktiewe weet-wie-ek-is”.  Wat Afrikaans vir haar #onmisbaar maak, is Afrikaanse woorde waarvan die klank presies sê wat die woord beteken, soos: kriewel, bollemakiesie, rondomtalie, woelwater, toktokkie, skietgebed, jubel, treur, knapsekêrel…

VYf dinge wat waarde tot haar lewe toevoeg:

Gesin
Haar man is haar rots en haar grapjas-seunskind en meisiekind met haar mooi hart laat haar swymel.

Verhouding met God
Dis die spil waarom haar lewe draai – die een vaste verwysingspunt wat als anders in haar lewe laat sin maak.

Boeke
Sy is totaal verslaaf aan ou en nuwe boeke (veral Afrikaans). Een van haar groot vrese is dat sy doodgaan voordat sy alles gelees het wat daar is om te lees.

Musiek
Net soos met woorde is sy verwonderd oor die moontlikhede van note en klanke wat nooit ophou nie.

Tuinmaak
Sy vind dit bevredigend om iets in die grond te doen en te sien hoe dit lewe en groei tot gevolg het. Grond onder haar naels maak haar gelukkig.

Volg haar:

Instagram: @susanlombaard

Facebook: Susan Lombaard