Sjaka S. Septembir: Sjaka dra vele hoede

Aangename kennis

Sjaka S. Septembir se liefde vir tale is inherent deel van wie hy is. Hy is gebore as Karl Gröger en het deur die jare verskillende pseudonieme ingespan waaronder hy gewerk het. Die interessante kombinasie van ’n Oostenrykse pa en ’n Afrikaanse ma het bygedra tot sy liefde vir verskillende tale. Sjaka het in Oos-Londen grootgeword,’n draai in die Vloot gemaak en vroeg reeds begin woeker met woorde. In 2009 het hy sy Meestersgraad in Fisieke Teater aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Hy dra vele hoede: die van skrywer, dramaturg, digter, akteur, regisseur, verhoogbestuurder, leermeester en mimikus maar bo alles ’n uitmuntende storieverteller. Sjaka is al deur resensente beskryf as ’n “kontemporêre literêre terroris,” en dis sy verligte lewensuitkyk wat van hom ’n besonderse digter maak. Sjaka is ook ’n opgeleide joga-instrukteur en wanneer hy kans kry sal jy hom met sy branderplank iewers by die see kry of op die dansvloer waar hy ’n tango dans.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Sjaka sê sy Afrikaans is kompleks want hy het grootgeword met ’n mengsel van tale, insluitend Xhosa. Dis veral die werk van digters soos Antjie Krog, Koos Kombuis en Breyten Breytenbach wat vir hom spesiaal is.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Vir Sjaka is Afrikaans ’n gunstelinginstrument en hy praat sommer met die intrapslag Afrikaans. Hy betreur die feit dat twee Afrikaanse mense soms met mekaar Engels praat want nie een van hulle was braaf genoeg om die ander een in Afrikaans te groet nie.

Sy projek:

Sjaka dra op vele terreine by tot Afrikaans en was onder meer te sien in produksies soos Ouma en Die Kersieboord. Sjaka maak ook die gedigte wat hy skryf lewendig deur dit voor gehore op te voer. Hy was een van die stigterslede van die groep PORSELYNNKAS, wat bestaan het uit kunstenaars, skrywers en uitvoerende kunstenaars wat almal in en rondom Stellenbosch gewoon en werk het. Die groep het van 1996 tot 1999 bestaan en daar is ook ’n dokumentêr van die groep gemaak. Daar sal binnekort weer ’n Bal-Oog-projek geloods word. Enigeen wat meer wil weet kan gaan kyk by www.bal-oog.co.za

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan sjakaseptembir@gmail.com

Moord in Ixia Straat kan op die webblad http://bal-oog.co.za/ bestel word.
Luister hier na die storie agter die storie. Sjaka vertel self…