Shireen Crotz: Help om nuwe wêrelde vir jongmense te open

Aangename kennis

In Namibië, waar Shireen Crotz grootgeword het, word daar pragtige Afrikaans gepraat. Shireen se grootwordjare was in Walvisbaai, ’n kusdorpie aan die Namibiese kus. Sy koester wonderlike herinneringe aan aande om die radio waar sy saam met haar oupa en ouma na die musiek van kunstenaars soos Karin Hougaard en Carike Keuzenkamp geluister het. Na matriek het sy ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch en haar BA-graad voltooi. Shireen is sedert 2009 werksaam by die Universiteit van Stellenbosch en sy is tans die Projekkoördineerder van Woorde Open Wêrelde (WOW), ‘n taalbemagtigingsprojek van die Universiteit Stellenbosch se Woordfees. Deel van die vreugde van haar werk is al die nuwe mense wat sy ontmoet, en al die nuwe plekke wat sy leer ken. Shireen bly nou al meer as 20 jaar in die pragtige Stellenbosch. Sy is getroud met Noel Crotz en hulle het twee seuns, Kyle en Aiden. Shireen is baie betrokke as mentor en voog by die sokkerklub in Idasvallei, ’n woongebied in Stellenbosch. Deur middel van sokker help hulle die seuns om op ’n holistiese wyse lewensvaardighede aan te leer en konstruktief besig te bly.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Haar Afrikaans is ’n hart-Afrikaans. Dis nie ’n stywe Afrikaans nie en dit behoort ook nie net aan een groep nie.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Shireen se leefwêreld is Afrikaans en sy gebruik Afrikaans oral waar sy kom. Sy verkies Afrikaans omdat sy haar juis soveel beter kan uitdruk in hierdie hartstaal van haar.

Haar projek?

Die span van die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) glo daarin om leerders en opvoeders se perspektiewe te verruim en sodoende ’n ander wêreld vir hulle oop te maak. WOW se grootste projek is die Sanlam WOW-spelfees wat strek oor nege provinsies. Daar het hulle al meer as 200 000 jongmense bereik om hul taalvaardighede te verbeter en hul woordeskat op ’n heerlike manier uit te brei. WOW se leuse is: “Ons speel spel-spel en spel speel-speel.”

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan adminwow@sun.ac.za of besoek www.woordfees.ac.za of skakel hulle by 021 886 5036