Sharney Nel: Reg om nuwe uitdagings storm te loop

Aangename kennis

“Die Riversdal se heide brand soos liggies teen die hang…” sing Randall Wicomb. Dis in hierdie dorpie waar Sharney Nel gebore is, maar sy het ook as kleuter ’n paar jaar in Namibië gewoon voordat sy op die Kaapse Vlakte grootgeword het. Hier moes sy behoorlik leer om haar man te staan, maar die uitdagende omstandighede het haar ook gevorm tot die mens wat sy vandag is: nederig maar tog bemagtig en vasberade. Sharney het op skool uitgeblink in Afrikaans en was elke jaar die topstudent. In 2005 is Sharney Johannesburg toe om ’n loopbaan in versekering en finansies te volg. Sy het later ’n BA-graad aan die Universiteit van Witwatersrand verwerf en hierna op die skakelwese en korporatiewe kommunikasie gefokus. Sedertdien het sy op talle Afrikaans-verwante projekte gewerk. Sharney som haarself op as ’n kreatiewe skrywer, sanger, liedjieskrywer en ywerige versamelaar van skoene. Sy sonder familie en vriende uit as onmisbaar in haar lewe, want hulle gee aan haar die krag en moed om die beste mens te wees wat sy kan wees.

Hoe lyk haar Afrikaans?

’n Bietjie van dit, en ’n bietjie van dat,
Hier kiep-kiep en daar kiep-kiep,
maar nooit in die hoekie!
Loskop en loslit, maar ook professioneel.
Kleurvol en meeste van die tyd, emosioneel.
Nooit te min, altyd gans te veel,
altyd vir genot, nooit om te verveel!

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sharney sê die lewe is ’n lied, daarom sing, dans en grap sy in Afrikaans.

Haar projek:

In haar rol as spesialis in die skakelwese is Sharney verantwoordelik vir Afrikaanse projekte vir kliënte, en sy verleen haar stem aan Afrikaanse radio- en televisieadvertensies. Sy glo dat Afrikaans nie net met vriende en familielede gepraat moet word nie, maar ook in die werksplek met Afrikaanssprekende kollegas en kliënte. Die taal vorm haar en sy wil dit graag op elke moontlike vlak bevorder.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan SharneyN@joepublic.co.za

Twitter: @SheyNel7
Instagram: @sheynel