Roscoe Williams: Roscoe deel sy liefde vir boeke met kinders

Aangename kennis

Roscoe Williams, wat grootgeword het in Mitchells Plain, het nie toegelaat dat omstandighede, soos bendegeweld en dwelmmisbruik wat hoogty in die woongebied vier, hom terughou in die lewe nie. As kind het sy pa die belangrikheid van boeke en lees by hom ingeprent. Nadat Roscoe vir ’n tyd lank in die sakewêreld as bestuurder gewerk het, het hy aangesluit by Read to Rise, ’n niewinsgewende organisasie wat daarop fokus om die kinders in Mitchells Plain se lewe met boeke te verbeter. Sy broer Athol, ’n skrywer en digter, was een van die stigterslede van hierdie organisasie. Roscoe is in September 2015 deur LeadSA as Kaapstad se “Hero” gekies. Roscoe is getroud met Natalie en hulle het twee jong dogtertjies wat hom baie besig hou. In die somermaande ry hy graag fiets vir ontspanning.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Afrikaans is Roscoe se tweede taal en hy sê soms sukkel hy om die regte Afrikaanse woorde te vind. Tog hou hy van die taal en hy huiwer nie om Afrikaans te praat nie.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Roscoe is dankbaar vir die geleentheid om Afrikaanssprekende kinders ook deur die projek met Afrikaanse boeke te bemagtig. Die oorspronklike boek wat geskryf is vir die projek, Oakie and the sun, is ook in Afrikaans en isiXhosa vertaal.

Sy projek:

Read to Rise is ’n geletterdheidsprojek wat fokus op al die primêre skole in Mitchells Plain en wat boeke na die kinders neem. Die organisasie maak ’n minibiblioteek, ’n geel boekrak vol boeke, wat dan na graad 2- en 3-klaskamers geneem word. Elke kind ontvang ook sy eie boek oor die kleinste akkertjie wat in ’n reuseboom ontwikkel. Daar word stories gelees en die kinders word aangemoedig om self te lees. Met die hulp van ’n vorderingstabel word daar aan die einde van die jaar ’n wenner aangewys; dit is die kind wat die meeste boeke gelees het. Sonder finansiële ondersteuning is die projek nie moontlik nie en bydraes word verwelkom. Vrywilligers kan ook help om op Woensdae by Read to Rise se kantoor in Claremont die nuwe boeke met plastiek oor te trek.

Maak gerus kontak:

Besoek www.readtorise.co.za of stuur ’n e-pos aan roscoe@readtorise.co.za