Rosa Scheepers: Tuisonderrig kan heerlike pret wees

Aangename kennis

Rosa Scheepers is ’n ma van vyf wat nie gehuiwer het om die uitdaging van tuisonderrig aan te pak nie; ’n formidabele taak wat sy as ’n reusevoorreg beskou. Sy is self een van vyf kinders en onthou haar grootwordjare as propvol wonderlike hoogtepunte, veral met haar tweelingsussie altyd naby as speelmaat. Nadat Rosa aan Hoërskool Menlopark gematrikuleer het, het sy eers haar vlerke gesprei en ’n jaar lank in Frankryk gaan au pair. Hierna het sy aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer en ’n meestersgraad in Engelse literatuur behaal. Rosa het ’n groot hart vir die mense rondom haar en sê sy sou ’n halwe mens gewees het sonder haar familie, vriende en die mense van haar kerk. Die tuisonderrig van haar kinders neem baie van haar tyd in beslag, maar tog doen sy dit met oorgawe, want sy voel sy is gemaak om te onderrig. Rosa is getroud met Nel, ’n grafiese ontwerper. Die gesin woon in Weltevredenpark, Johannesburg.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Haar Afrikaans is duisende woorde elke dag in die huis en tuisskool. Dis Laurika Rauch en Laurinda Hofmeyr; dis Arende en Ballade vir ’n Enkeling; dis “Daar’s ‘n hoender” en “Aanstap Rooies”. Afrikaans is haar grootwordtaal en nalatenskap.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Rosa glo in die ontwikkeling van tale en meen daar is soms plek vir ’n Engelse woord of twee. Tog bly Afrikaans die taal waarin hulle groei, liefhet, bid en waarin haar kinders grootword.

Haar projek:

Rosa het ’n program ontwikkel wat gemik is op tuisskoolonderrig, maar enigeen wat sy kind in Afrikaans wil leer, sal hierby baat. Al die aspekte van die taal word op ‘n opwindende wyse onderrig en daar is speletjies, liedjies, inkleurwerk en gediggies. Die naam hiervan is My Afrikaanse Avontuur en enigeen wat meer wil weet kan die webwerf www.myafrikaanseavontuur.co.za besoek. Sy gebruik ook ’n Facebookbladsy om inligting te deel oor maniere waarop kinders aan Afrikaans blootgestel kan word. Daar is byvoorbeeld ’n spreekwoorduitdaging wat elke week ’n spreekwoord uitbeeld. Enigeen wat wil, tuisonderrigmammas of onderwyseresse, kan dit druk en gebruik om ’n kreatiewe gesprek met kinders uit te lok.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan rosa.scheepers@gmail.com of besoek die Facebookblad