Roberto Cameron: Roberto gee Afrikaans in Durban ’n stem

Aangename kennis

Moenie dat Roberto Cameron se Skotse naam en van jou mislei nie. Sy Skotse oupa- en oumagrootjie het Skotland vir Suid-Afrika verruil maar toe hulle albei sterf, is sy oupa deur Afrikaanse mense aangeneem. Vandag is Roberto ’n trotse Afrikaner in murg en been. Roberto, wat in Kempton Park grootgeword en skoolgegaan het, het na skool permanent by die weermag aangesluit waar hy in die elektronika opgelei is. In 1996 het hy by ’n inligtingstegnologie-maatskappy in die privaatsektor begin werk. Hy is steeds in die IT-bedryf en werk op ’n wêreldwye vlak om kompleksprobleme op te los. Roberto en sy vrou, Latandra, woon in Durban. Hulle het ’n seun en ’n dogter wat nog by hulle woon. Noudat die kinders uit die skool is, is dit vir hom heerlik om meer tyd vir homself te hê en hy draf graag of ry ook fiets. Om in Durban met sy fantastiese weer en goue strande te bly, beskou hy as ’n heerlike voorreg.

Hoe lyk sy Afrikaans?

In Durban is Afrikaans in die minderheid en hy sê dis ’n opdraande stryd om elke dag te veg vir die behoud van Afrikaans in, waarna verwys word, as die laaste Britse buitepos in Suid-Afrika.

Hoe leef hy in Afrikaans?

By die huis word daar in Afrikaans gekuier, na Afrikaanse musiek geluister en wanneer die geleentheid opduik om ’n Afrikaanse rolprent te sien, gryp hulle dit aan.

Roberto se projek:

Saam met die KZN Departement van Kuns en Kultuur is hy betrokke by al die Afrikaanse skole in die groter gebied van Durban. Die skole word met borgskappe ondersteun om Afrikaanse kunstenaars na hul feeste te bring. Cameron is ook die administrateur van die Facebookgroep, Durban Afrikaners. Die groep word gebruik om al die Afrikaanse gebeure by skole, kerke en die bedrywighede van organisasies soos die Voortrekkers en Helpende Hand, te bemark. Die groep se ledetal groei voortdurend en is reeds ver verby die 3000 kerf.

Maak gerus kontak:

Besoek www.facebook.com/groups/9858835781 of stuur ’n e-pos aan robcam@telkomsa.net