Roanè Dorfling: ’n Passie en liefde vir kinders

Aangename kennis

Min dinge is vir Roanè Dorfling so lekker soos ’n braai saam met familie en vriende waar daar heerlik in Afrikaans gekuier word. Hierdie kaalvoet, wind in die hare plaasmeisie, het grootgeword op ’n plaas net buite Rayton naby Cullinan en haar hele skoolloopbaan by Cullinan Gekombineerde Skool deurgebring. Sy het in 2016 gematrikuleer en is tans besig met haar B.Ed graad (Grondslagfase) by UNISA. Roanè werk by ’n kleuterskool in Rayton en geniet elke oomblik daarvan. Kinders is haar passie en alhoewel dit harde werk en lang ure is, bring dit ook baie bevrediging. Roanè is een van vyf kinders. Braaibroodjies en biltong is twee van die vreugdes in haar lewe.

Hoe voel sy oor Afrikaans?

Afrikaans is haar moedertaal, maar ook die taal wat haar hart warm laat klop. Roanè is besonder lief vir Afrikaanse musiek. Afrikaans is vir haar baie spesiaal omdat daar soveel uitdrukkings en woorde is wat dinge beter beskryf as wat enige ander taal in die wêreld kan.

Haar projek

As onderwysstudent wil sy graag aan kinders en jongmense die waarde van Afrikaans oordra en die mooi, nostalgiese woorde vir hulle leer. Dis vir haar belangrik om Afrikaans aan jongmense en kinders te bemark, sodat hulle geslag dit vorentoe kan vat.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan roanedorfling@gmail.com