Rita Andreas: Van plaaswerker tot spreekbuis

Aangename kennis

Rita Andreas, een van die stigterslede van die Nasionale Plaaswerkersforum, en ook die woordvoerder van die forum, hou daarvan om ’n verskil te maak. Rita, wat op die plaas Lelienfontein naby Wellington grootgeword het, het as algemene plaaswerker begin werk maar het altyd groot drome gekoester. Drie maande nadat sy in ’n administratiewe pos aangestel is, het sy deel gevorm van die senior bestuur van Bosman Boerdery en Lelienfontein Wingerdkwekery. Sy is mettertyd as die senior personeelbestuurder van die plaas aangestel en is in 2009 as Plaaswerker van die Jaar bekroon. Van hier het Rita na die Drakenstein Munisipaliteit geskuif. Tydens die plaaswerkerstakings van 2013 het sy bewus geword van die plaaswerkers se behoefte aan ’n spreekbuis en die Nasionale Plaaswerkersforum is in die lewe geroep. Rita wil graag binnekort die politiek betree. Sy en haar man Cornelius, het ’n seun en ’n dogter en twee kleinseuns wat ouma se grootste skat is.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Afrikaans is Rita se moedertaal en sy is glad nie skaam om die taal te praat nie. As woordvoerder van die Nasionale Plaaswerkersforum tree Rita dikwels by geleenthede op en dan doen sy dit trots in Afrikaans. “Ek sal baklei vir Afrikaans, tot ek nie meer kan nie,” sê sy.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Rita werk met die mense van die gemeenskap en moedig hulle altyd aan om Afrikaans te lees. Wanneer sy vir haar eie genot lees, trek sy ’n Afrikaanse liefdesverhaal nader.

Haar projek?

Rita het ’n besonderse groot hart vir die gemeenskap en het verskeie projekte wat daarop fokus om die omstandighede van die plaaswerkers te verbeter. Die Adama Plaaskoor, wat deur Rita op die been gebring is, het in 2015 hul afdeling by die jaarlikse Suidoosterfees-koorkompetisie gewen. Sy is aktief besig om jeuggroepe op die plase te stig wat op Vrydagaande met verskillende aktiwiteite besig gehou word. Om die positiewe dinge wat uit al hierdie projekte spruit, raak te sien, maak vir haar die lewe die moeite werd.

Maak gerus kontak:

Om op enige manier betrokke te raak, stuur ’n e-pos aan Rita.Andreas@drakenstein.gov.za