Rianca de Wet: Praat en dra Afrikaans in styl

Ontmoet vir Rianca:

Rianca is dinamies, kreatief, ondernemend en gedrewe, maar ook vol deernis met geniet humor vir ‘n bietjie pret.

Dit is hoe die mede-eienaar van Klerekas.com, die eg Afrikaanse aanlynwinkel, haarself opsom.

Sy doen alles wat sy aanpak in styl – of sy nou reis, lees, dans of toneel speel. Haar mense en haar geloof is die twee dinge wat waarde tot haar lewe toevoeg.

Vir haar is daar niks so lekker soos kuiertyd om ‘n braaivleisvuur, of haar ma se kombuis en die gepaardgaande gesprekke, lag en samesyn om die potte nie.

Hoe lyk haar Afrikaans:

Sy beskou Afrikaans as die hartstaal waarmee Afrikaanssprekendes kan kommunikeer en brûe bou.

Wat Afrikaans vir haar #onmisbaar maak, is die hartlikheid van Afrikaanssprekendes. “Maak nie saak waar jy in die wêreld is nie, dis altyd lekker om iemand raak te loop wat Afrikaans praat. Dis asof daar natuurlik ‘n band is.”

Vyf dinge wat waarde tot haar lewe toevoeg:

Geloof
“God is groot. Hy is groter as ons denke, drome, wense en gebede en wanneer sy krag in ons werk, is daar geen beperkings aan wat Hy in ons lewens kan vermag nie.”

Dankbaarheid
Dankbaarheid is vir haar die mooiste eienskap wat enigiemand kan toon.

Harde werk
Sy doen iets voluit of sy doen dit glad nie. Rianca meen dat wanneer iets nie uitwerk nie, moet jy daaruit leer, laat gaan en weer probeer. Sy beskou die lewe as een groot probeerslag en vir haar is niks wat die moeite werd is, maklik nie.

Passie
Vir haar is daar niks so inspirerend soos die manier waarop mense se oë glinster wanneer hulle praat oor dit waaroor hulle passievol is en waarvoor hulle lief is nie.

Humor
Afrikaanse humor is vir haar baie belangrik en lag is vir haar die beste medisyne.

“Lag dikwels, lag lekker en lag lank.”

Volg haar:

Klee jouself in Afrikaanse styl en volg Klerekas.com: