Rentia Weber: ’n Private ekstrovert

Aangename kennis

Rentia Weber is gebore in die dorpie Riversdal waar die Sleeping Beauty rustig lê en slaap tussen landerye en silo’s. Sy het haar matriek aan die Hoër Meisieskool La Rochelle geslaag en na voltooiing van haar studies in Skakelwese aan die Kaapse Technikon, het sy in Londen gaan werk. Terug in Suid-Afrika het sy besef dat die reisgogga behoorlik gebyt het en vir die volgende paar jaar het sy as lugwaardin die wêreld deurkruis. Nadat sy en Werner, ’n Namibiër, getroud is, het hulle drie jaar lank in Windhoek gewoon voordat hulle hul in die Paarl kom vestig het. Hulle het twee kinders, Klara en Daniel en deesdae val haar fokus op die versorging van haar gesin. Rentia hou van alleentyd en stilte, maar is tog ook gemaklik in ’n groot geselskap. Wanneer sy ’n kans kry, sal sy op haar eie gaan fliek, stap of van die Boland se heerlike wyn drink. Die Boland, sê sy, is hemel op aarde.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Rentia se Afrikaans is ’n mengelmoes van elemente: kinders en kosblikke; bergklim en sweet; vetplante en droë wind; die Boland en wingerde, maar veral haar Pa se stories oor sy grootwordjare in Montagu en haar ma se eg oorspronklike resepte.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sy maak weekliks ’n draai in die Paarl se dorpsbiblioteek om stapels boeke vir haar en die kinders uit te neem en lees ook soms stories voor vir kleuters wat die biblioteek besoek. Sy luister net na RSG en mis ook nie ’n episode van Kwêla nie. Sy help ook graag die Engelse bure se seun met sy Afrikaanse huiswerk.

Haar projek:

Rentia het besluit om ’n positiewe bydrae tot Afrikaans te maak en het ’n Facebookblad begin: Afrikaanse Woord vir die Dag. Daar plaas sy elke dag ’n nuwe of interessante Afrikaanse woord wat sy uit die HAT haal, tesame met ’n foto of illustrasie daarby wat by die woord se betekenis aansluit. Enigeen is welkom om die blad te besoek en dan weer die woord op hul persoonlike Facebookblaaie te deel. Besoek: https://www.facebook.com/AfrikaanseWoordvirdieDag/

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan rentiaweber@gmail.com

’n Lang somervakansie is ideaal vir pret met die kinders

  • Die biblioteek is die ideale stilhouplek. Rentia reken ’n mens moenie gejaagd wees wanneer jy daar stilhou nie. Sy gee elke kind die geleentheid om op ’n stoel te gaan sit met ’n hopie boeke waaruit hulle dan elk vier moet kies. “Dis baie sensories want hulle kan self besluit deur te kyk na watter omslag kleurvol of doeltreffend is. Hulle kan deur die boeke blaai en verstaan dat al is die boeke nie nuut nie, dit tog waardevol is. Dan hoor hulle ook die stilte en die fluistering rondom hulle.“
  • Biblioteke is ook dikwels in die vakansie ’n plek waar allerlei aktiwiteite aangebied word om kinders mee besig te hou. Vir Rentia se kinders is die biblioteek ’n gunsteling stilhouplek en boonop is dit gratis.
  • Op die lysie van dinge om te doen, is die Cool Runnings Tobbogan-glyplank oorkant Tygervallei-winkelsentrum. Wanneer hulle moeg gegly is, sal hulle eers by Willowbridge ’n pizza gaan eet.
  • Die Desembervakansie moet ’n mens by die see uitkom, al het jy nie ’n strandhuis nie. Rentia beplan om ’n piekniekmandjie te pak en heerlik op een van die Kaap se mooi strande te gaan ontspan. Na ’n heerlike dag vol son, sout, branders en strand kan ma en pa ’n skemerkelkie op Blouberg geniet, en die kinders elkeen ’n yslike melkskommel.
  • Een van die heerlike dinge om te doen in Kaapstad is om met die kabelkar Tafelberg te bestyg. Indien jy goed beplan, kan jy gebruik maak van afslagpakkette en laatmiddag met die kabelkar na bo gaan. Die atmosfeer in Kaapstad oor Desember is altyd besonders.
  • Baie van die wynplase in die Kaapse Wynland het staproetes waar ’n mens kan gaan stap en dis spotgoedkoop. Jy kan ook ’n piekniekmandjie vooraf bestel om die uitstappie nog meer opwindend te maak.
  • By die Taalmonument in die Paarl is daar volmaanpieknieks wat baie gewild is, veral in die somermaande. Rentia en haar gesin sal beslis een van hierdie aande bywoon, kombers en piekniekmandjie in die hand en dan die sterre en wonderlike uitspansel en die pragtige maan vanaf hul kombers betrag terwyl daar heerlik gesmul word.
  • In en om die huis beplan sy ook heelwat oefening en aktiwiteite. Dis heerlik om gesonde happies buite by die swembad te geniet en vrolike musiek te speel om atmosfeer te skep. Opblaasplastiekbootjies sorg vir ekstra pret in die water.
  • Wanneer pa Werner in die vakansie ook meer dikwels tuis gaan wees, gaan daar ook wetenskaplike eksperimente gedoen word. Dis iets waarvan die kinders besonder baie hou.
  • Hierdie tyd van die jaar is ook die ideale tyd om vriende met kinders oor te nooi vir ’n braai en ’n kuier en wanneer die kinders lekker saam speel, kry die ouers genoeg kans om te ontspan.

Lekker vakansie hou!

Besoek Rentia se Facebookblad, Afrikaanse Woord vir die Dag https://www.facebook.com/AfrikaanseWoordvirdieDag/ waar sy elke dag ’n nuwe, interessante of besonderse Afrikaanse woord deel.