René Arendse: ’n Passie vir die lewe en die mense om haar

Aangename kennis

Kleintyd het René Arendse en haar pa hand-aan-hand vanaf Kaapstadstasie tot in Distrik 6 geloop. Hy was daar ’n onderwyser en René het ook die eerste drie jaar van haar skoolloopbaan in Distrik 6 voltooi. Na die gedwonge verskuiwing van die inwoners uit die gebied het haar pa in Mitchell’s Plain gaan skoolhou, en René het in Kuilsrivier gematrikuleer. Hierna het sy ’n BA Musiekgraad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en tien jaar lank skoolgehou. Nadat musiek as vak uit die kurrikulum geneem is, het René ’n musiekskool in Parow geopen. Deesdae is René ’n konsultant wat fokus op onderwys en musiek. By die Kunstekaap is sy die projekbestuurder van hul Uitreikingsprojek wat jaarliks sowat 2 600 kinders op die platteland aan die teater en dinge soos ballet, ’n simfonieorkes, opera en ander kuns- en dansvorme, blootstel. René is ook ’n projekbestuurder van die Suidoosterfees se Gemeenskapskorekompetisie. Sy is getroud met Raphael Arendse en hul twee tienerdogters woon nog in die huis.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Haar Afrikaans se spoor loop deur haar skoolloopbaan in Distrik 6 na die Universiteit van Stellenbosch tot waar sy nou ’n programaanbieder op RSG is – ’n heerlike allegaartjie.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Afrikaans is deel van haar DNS, sê René. Van die sewe projekte wat sy tans bestuur, word vyf daarvan deur Afrikaans gedryf. Hierdie vyf projekte fokus op die bemagtiging van Afrikaanssprekers deur opvoeding en die kunste.

René se projekte:

René is die aanbieder van die program Klanke van ons kultuur, Sondagoggende op RSG. Die program fokus op Suid-Afrikaanse koormusiek oor taal- en kultuurgrense heen. Daarmee probeer sy veral om die voortleef van die Afrikaanse lied te bevorder. By die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) bestuur sy die Brugbou-mentorskapprojek. Die projek is vir matriekleerders met Afrikaans Eerste Taal as vak wat ondersteuning nodig het om ’n tersiêre loopbaan te begin.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan René by rene.smartbusiness@gmail.com