Reinie Smit: ’n Karoomeisie omring met boeke

Aangename kennis

Ladismith in die Klein-Karoo se bekendste landmerk is Towerkop wat wag hou oor die pragtige dorpie. Dit is in hierdie dorp waar Reinie Smit haar eerste treë gegee en skoolgegaan het. Nadat sy matriek geslaag het, is sy as onderwyseres opgelei aan die onderwyskollege in Oudtshoorn. Reinie is met haar skoolliefde, Johan getroud en die twee het hulle in Prins Albert in die Klein-Karoo gaan vestig. Haar loopbaan skop af as ’n remediërende onderwyseres. Nadat die spesiale klasse by skole uitgefaseer is, het sy ’n aanstelling in Prins Albert se biblioteek gekry en vandag kyk sy nie een oomblik terug nie en verrig haar taak as bibliotekaresse met oorgawe. Al is sy elke dag van haar lewe met boeke omring, bly dit ook haar nommer een stokperdjie. Dis ook vir haar heerlik om rustig voor die televisie te ontspan, of in die buitelug te gaan stap. By die huis is daar drie Maltesies en twee katte wat die gesin voltallig maak.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Reinie se Afrikaans is onlosmaaklik deel van wie sy is. Dis die taal waarmee sy grootgeword het, waarin sy gemaklik voel, waarin sy heerlik kuier en die taal waarin sy haarself die beste kan uitdruk.

Hoe leef sy in Afrikaans?

In haar werkomgewing kry Reinie te make met ander tale maar wanneer sy in die middae by die biblioteek uitstap, is haar leefwêreld Afrikaans. Sy lees hoofsaaklik Afrikaanse fiksie, sy en haar man kyk graag na Afrikaanse rolprente op DVD of luister na Afrikaanse musiek. Selfs haar honde blaf in Afrikaans, sê sy.

Haar projek:

Prins Albert wat deesdae bekend is vir die jaarlikse Leesfees wat skrywers en lesers van oraloor na die dorpie lok, kan ook spog met ’n bedrywige biblioteek. Dié biblioteek waar Reinie saam met Jeanetta Nel en Kato Malies werk, is in 2015/16 as die beste biblioteek in ’n klein dorpie in die Wes-Kaap aangewys. Reinie werk hard om haar liefde vir veral Afrikaanse boeke aan enige gebruiker van die biblioteek oor te dra. Vra jy haar om ’n boek aan te beveel, neem sy jou heel eerste na die Afrikaanse rak, waar ’n nuwe geslag skrywers se boeke uitgestal staan. Iets vir elke smaak.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan reiniesmit@gmail.com