Reinard du Plessis: Verbruikerselektronika laat sy wêreld draai

Aangename kennis

Sportliefhebber, bemarkingsghoeroe en tegnologieverslaafde in een pakkie, dit is Reinard du Plessis. Reinard, die Hoofbestuurder Bemarking en Kommunikasie by ATKV-Sake, is boonop ook iemand met ’n doelgerigte belangstelling in die politiek en finansies. Hy is gebore in Kaapstad, maar het gematrikuleer aan Hoërskool Eldoraigne in Centurion. Reinard het ’n Bcom-graad in Bemarkingsbestuur aan Unisa behaal en daarna het hy sy kennis aangevul met verskeie ander diplomas en kwalifikasies in digitale bemarking, die advertensiewese en mediabeplanning. Sy liefde vir die media en bemarking het hy by sy pa geërf, wat self ook ’n loopbaan in hierdie bedryf gehad het. Tegnologie, spesifiek verbruikerselektronika, is ’n veld wat Reinard geweldig interesseer. Reinard is ’n ywerige leser wat weet dat dit die heel beste manier is om meer oor dinge te leer. Op ’n professionele vlak is hy lid van verskeie platforms soos die IAB SA (Interaktiewe Advertensieburo) en die Bemarkingsvereniging van Suid-Afrika. Hy is getroud met Liezl en hulle het ’n dogtertjie, Mackenzie. Reinard gryp die uitdagings wat elke nuwe dag bied met albei arms en met die nodige dank in sy hart, aan.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Reinard se Afrikaans is een wat vorentoe kyk. Dit skep geleenthede vir nuwe ervarings en insigte en dryf hom vorentoe om te deel, lees, praat, skryf, dink en droom. Afrikaans, sê hy, is wie hy is, maar terselfdertyd ook wie hy wil word.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Hy leef Afrikaans met sy tong, sy hart, sy verstand en met sy gees. Hy is dalk effe meer alternatief en hou van Van Coke Cartel eerder as Theuns Jordaan, Koos Kombuis eerder as Bles Bridges. Hy geniet die nuusprogramme van Waldimar Pelser en raak verlore in Kragboks.

Sy projek:

Reinard geniet dit om deur middel van sy loopbaan Afrikaans te bevorder deur kreatiewe bemarking en die skep van Afrikaanse media, reklame en besighede. Hy was ook al die gasspreker by die ATKV se Jeugleiersimposium waar hy oor sosiale media en die effek op die jeug gesels het en het NWU ’n lesing gegee het oor die digitale bemarking van besighede. Reinard het in 2016 by ’n Meltwater-seminaar as gasspreker gesels oor die beste wyses om aanlynmonitering te doen.

Maak kontak

Besoek: www.facebook.com/reinardduplessis
https://za.linkedin.com/in/reinardduplessis
Twitter: @reinarduplessi
www.reinardduplessis.com