Rehan Boonzaier: Rehan vat lewenservaring in gedigte vas

Aangename kennis

Al was Rehan Boonzaier reeds verby die sewentigjaarmerk toe hy gedebuteer het met die digbundel Harte Bons Bons, kom van hierdie gedigte ’n ver pad. Die grondslag vir sy liefde vir die Afrikaanse taal is gelê in sy ouerhuis. Sy pa, Jimmy Boonzaier was ’n kunstenaar, musikant en vurige voorstander van Afrikaans. Met ’n kunstenaar as pa, het Rehan dikwels rondgetrek, maar hy dink met groot deernis terug aan sy dae in Linden waar hy ook aan Hoërskool Linden gematrikuleer het. Rehan het as vakleerling in motorwerktuigkunde by die Burgermag aangesluit, maar het hard gewerk en binne 12 jaar was hy die besturende direkteur van ’n besigheid in die motorbedryf. Hierna het hy na die versekeringsbedryf geskuif waar hy tot met sy uittrede, ’n senior finansiële beplanner was. Rehan en sy vrou Bernerine, is albei betrokke by ’n huweliksverrykingsbediening en doen ook individuele berading. Sy ses dogters uit die saamgestelde gesin, en die agt kleindogters, lê hom almal baie na aan die hart.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Rehan se Afrikaans is lewendig en word pragtig verwoord in sy gedigte. In Laurika se lafenis skryf hy:
So ryk die essens van ons taal
in sang deurdrenkte liriek
neem na vlakke waar dit hoort
rype woord uit Afrikanerboord …

Hoe leef hy in Afrikaans?

Rehan en sy hele gesin is vurige aanhangers van goeie Afrikaanse musiek en drama en selfs die kleinkinders in Nieu-Seeland praat nog Afrikaans.

Sy projek:

Rehan vertel dat hy nog altyd sy gedagtes in versformaat neergepen het sonder om ooit iets daarmee te doen. Na sy aftrede het hy weer op gedigte afgekom wat hy deur die jare geskryf het. Sy dogter het hom aangemoedig om dit in ’n bundel vir die kinders en kleinkinders te bewaar. Publishingworld SA het dit dadelik vir publikasie aanvaar. Rehan het reeds genoeg gedigte vir ’n volgende bundel voltooi. Hy beskou homself as baie geseënd dat hy jare se lewenservaring, wat ook ’n groot kwota hartseer insluit, in sy gedigte kan uitleef.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan rehanboonzaier@gmail.com of skakel hom op 021 939 2693.