Fransjohan Pretorius (Prof): Geskiedenisghoeroe

Aangename kennis

Reeds as skoolseun, met ’n besoek aan die plaas Bokfontein in die Magaliesberg waar genl de Wet en 250 manne die Britse troepe ontglip het, het Fransjohan Pretorius sy liefde vir geskiedenis ontdek. Vandag word hy as een van die voorste kenners van die Anglo-Boereoorlog beskou. As voorbereiding vir sy doktorsgraad wat hy aan Unisa behaal het, het Fransjohan ’n doktorale eksamen in geskiedenis aan die Rijksuniversiteit van Leiden geslaag en ’n lang loopbaan in die akademie het gevolg. Na sy uittrede in 2014 is hy aangestel as professor emeritus in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Fransjohan is die skrywer of redakteur van agt werke oor die Anglo-Boereoorlog en het verskeie toekennings ontvang. Tussen al die toekennings is die Stalsprys vir Geskiedenis (1998) en die FAK se Prestige-prys (2001). Sy liefde vir geskiedenis sorg dat selfs sy vrye tyd daardeur opgeslurp word met televisieverskynings, die skryf van resensies en openbare optredes. Hy het ook ’n uitgebreide boekery oor die geskiedenis wat die rakke in sy huis volstaan. Fransjohan is getroud met Laurette en hulle het twee seuns en ’n dogter en is ook die trotse grootouers van ’n dogtertjie, Laurette.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Omdat hy geweldig trots is op Afrikaans en wat die taal bereik en behaal het, voel hy sterk daaroor dat ’n mens so suiwer as moontlik moet probeer praat.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Fransjohan se leefwêreld is Afrikaans, en hy is veral trots op sy ma, Babs Pretorius, wat die lirieke van byna 130 Afrikaanse liedjies vir Janita Claassen geskryf het. Sy is vir hom ’n wonderlike voorbeeld van wat ’n mens kan doen met dit wat vir jou gegee word.

Sy projek:

Fransjohan is veral geïnteresseerd in die wyse waarop skrywers van Afrikaanse fiksie met historiese gegewens omgaan in boeke soos Op soek na Generaal Mannetjies Mentz (Christoffel Coetzee), Fees van die Ongenooides (PG du Plessis) en Sirkusboere (Sonja Loots). Hy het ’n besonderse waardering vir skrywers wat met meer vryheid van verbeelding ’n belangstelling by mense kweek om die letterkunde te bestudeer, en ook meer te wete te kom oor historiese gebeure. Fransjohan se jongste boek oor die Anglo-Boereoorlog is getiteld A to Z of the Anglo-Boer War.