Pieter Cloete: Afrikaanse musiek is sy forte

Aangename kennis

Pieter Cloete was van kleins af vasberade en baie ambisieus, ten spyte van uitdagings op sy pad. Pieter, wat aan Hoërskool Kanonkop in Middelburg, Mpumalanga gematrikuleer het, het reeds as skoolseun op naweke ʼn pizzawinkel bestuur en in die week hard gewerk om matriek klaar te maak. Hy het na skool in ʼn restaurant begin werk en ʼn rekenaarkwalifikasie aan Middelburg Tegniese Kollege verwerf. Die kans om ʼn tak van dié kettingrestaurant in Knysna te bestuur, het opgeduik en hy het dit met albei arms aangegryp. In Knysna het hy die eerste keer die geleentheid gekry om by ʼn radiostasie te begin uitsaai. Hy het hier ook sy Afrikaanse musiekblog, pietercloete.com begin. Na ʼn jaar of twee by Knysna FM, het Pieter besluit dis tyd vir ʼn nuwe uitdaging en ʼn omroeperstoets by Groot FM 90.5 in Pretoria afgelê wat hy dadelik geslaag het. Aanvanklik het hy op ʼn Sondagmiddag en weeksaande van 7 tot 9 uitgesaai. Pieter is intussen bevorder as musiekhoof van dié radiostasie en behartig nou die vroegaandskof, van 6 tot 9.

Kitsfeite oor Pieter

  • Pieter het drie musiekvideo’s vir die kunstenaar Francois van Rensburg vervaardig – “Volla”, “Bid dat God jou spaar” en “Druppel in die see”.
  • In 2017 was Pieter een van drie finaliste in die Liberty Radio Awards se kategorie: Best Night-Time show.
  • Pieter stel ook elke week Maroela Media se Top 20-trefferslys saam en die program word op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai.
  • Pieter speel sekere Sondagoggende kitaar in die lofprysingsgroep in die Encore AGS-gemeente in Pretoria.
  • Plaaslik sonder hy Disselblom uit as ʼn musiekgroep waarvan hy graag deel sou wees en internasionaal val sy keuse op Live, ʼn Amerikaanse rockgroep.
  • Pieter vervaardig Afrikaans.com se eie radioprogram: Afrikaans Aktueel wat op gemeenskapsradiostasies landwyd uitgesaai word. Jy kan ook hier daarna luister.

Pieter oor Afrikaans

Vir Pieter lê die grootste vreugde van Afrikaans in die verskeidenheid van dialekte wat so deel is van ons mooi taal. Afrikaans, sê hy, klink heel anders in die Noord-Kaap as wat dit in Pretoria klink. Sekere woorde soos kolwyntjie, roosterbroodjie, haarnaaldboog en natuurlik braai, kan jy net in Afrikaans sê.

Pieter se projekte

Op sy webblad, pietercloete.com, blog Pieter gereeld oor Afrikaanse musiek en kunstenaars. Hy skryf maandeliks ʼn artikel vir die FAK se digitale tydskrif INK. Sy passie vir die Afrikaanse musiekbedryf is iets wat hy koester en hy lewer ʼn belangrike bydrae tot hierdie bedryf deur die blootstelling wat hy op vele vlakke aan Afrikaanse kunstenaars gee.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan info@pietercloete.com
Volg hom op https://www.facebook.com/pietercloeteomroeper/
https://twitter.com/pietercloete?lang=en
Instagram: https://www.instagram.com/pietercloete/