Pierre Steyn: Reis saam met Pierre

Aangename kennis

Nie almal is so gelukkig om die redakteur van Suid-Afrika se voorste reistydskrifte, Weg! en go! te wees nie, maar Pierre Steyn staan hierdie skoene met gemak vol. In sy matriekjaar het Pierre die Grahamstadfees besoek en sy hart verloor op die pragtige universiteitsdorp. In 1986 het hy by die Universiteit van Grahamstad ingeskryf vir ’n B-graad in joernalistiek wat hy in 1988 voltooi het. Pierre se joernalistieke loopbaan het by Die Burger begin. Hy was ook vir drie jaar Media24 se Burohoof in Washington, VSA. In 2005 het hy van dagblaaie na weekblaaie en toe maandblaaie geskuif. Voor sy aanstelling by Weg! en go! was Pierre ook die redakteur van TopCar– en TopGear-tydskrifte. Pierre sonder gedeelde ervarings saam met sy vrou, Ronel en hul kinders, Rebecca en Sebastian, uit as kosbare hoogtepunte in sy lewe. As geld nie ’n probleem was nie sou hy ’n jaar of wat afvat en die wêreld te voet gaan verken.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Pierre se Afrikaans is ’n loslit-Afrikaans. “Ons taal het lankal daai stywe baadjie uitgetrek,” sê hy. Daar word ook heerlike gesels-Afrikaans in Weg! gebruik, sonder dat dit bespikkel word met Engels; ‘n Afrikaans wat toeganklik is vir enigeen wat die tydskrif optel.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Afrikaans, sê hy, is onlosmaaklik deel van sy DNS en ’n gemaklike kleed wat hy elke dag aantrek sonder om daaroor te dink. Al was Engels en Afrikaans nog altyd in sy loopbaan vervleg, is Afrikaans die taal waarin hy die gemaklikste is en waarin hy tuis voel. Sy liefde vir Afrikaans lê vir hom geanker in die poësie van Leipoldt en die prosa van Etienne van Heerden.

Pierre se projek:

Weg! en go! is pragtige reistydskrifte wat positiewe stories oor Afrika en veral Suid-Afrika vertel. Dit neem die lesers saam op ’n ontdekkingstog na al die mooi en interessante plekke in ons land en kontinent en Weg! doen dit boonop in Afrikaans.

Maak gerus kontak:

Gaan besoek die webtuiste: www.weg.netwerk24.com/
of www.facebook.com/wegtydskrif/