Petra Mei – Eendag word ek Suid-Afrika se kletskoningin

Aangename kennis

Elke dag gesels Petra Mei in pragtige Afrikaans met die luisteraars van Radio Weskus 92.3. Petra woon in Langebaan en sy geniet haar werk by die gemeenskapsradio terdeë. Sy was bloot net nege jaar oud toe sy reeds geweet het sy sal eendag wil uitsaai. Soos vir baie ander jong kinders was Riaan Cruywagen haar groot bron van inspirasie. Wanneer haar maats haar oor haar perfekte Afrikaans geterg het, het sy hulle stil gemaak en gesê: “Los my uit! Ek leef, dans, sing, eet en word oud in Afrikaans.”

Nadat sy haar studies deur afstandonderrig voltooi het, het sy in 2007 agter die mikrofone van RSG ingeskuif en gou deel geword van die suksesvolle Oggend-op-RSG-span. In 2009 is sy met chroniese depressie gediagnoseer en haar siekte het dit vir haar onmoontlik gemaak om voort te gaan met haar werk by hierdie radiostasie. Petra is terug na Langebaan waar sy weer by haar grootmaakouers, haar oupa en ouma en tannie, ingetrek het. Daardie tyd het sy gedink sy sal nooit weer naby ‘n radiomikrofoon wil kom nie. Met die mense in haar lewe se ondersteuning, die regte medikasie en God se genade het sy stadig maar seker beter geword en op ‘n dag besef dis nou die tyd om te lééf. Sy het die pos by Radio Weskus gekry, en geniet elke oomblik daarvan.

Petra se rolmodel na wie sy nog altyd opgekyk het, is Oprah Winfrey, die kletskoningin wat kop en skouers bo ander uitstaan. Sy hoop om eendag ook die kans te kry om as televisieaanbieder op te tree, en kan nie wag vir die dag wat daardie deur vir haar sal oopgaan nie. Nog iets waarna Petra streef, is om mense te leer om die etiket van velkleur af te haal en ons pragtige taal te geniet. Afrikaans is immers die kosbare skat van mense van verskillende kulture.

Hoe lyk Petra se Afrikaans?

Die pragtige Afrikaans wat Petra praat, is ‘n interessante storie. Haar ma is ‘n bruin vrou en haar pa ‘n swart man. Sy het haar liefde vir taal by haar ma geleer, en vandag is sy baie trots om Afrikaans te wees. Dis ‘n godgegewe gawe en talent, sê sy. As omroeper hou sy daarvan om die beeld van Afrikaans te versterk en een van haar gunsteling sêgoed is: “Afrikaans is groot, Afrikaans is nou en Afrikaans is hier!” Oor die mense wat soms verstom is dat sy sulke pragtige Afrikaans kan praat, skud sy net haar kop. Sy, nes die aanbieder Katlego Maboe, geniet hoe hulle klink. Hulle geniet Afrikaans!

Hoe leef ek Afrikaans?

Alhoewel Petra in Afrikaans en Engels uitsaai, is dit vir haar heerlik om in die gemeenskap waar sy woon, Afrikaans te kan praat. Daar aan die Weskus sukkel jy glad nie om iemand te kry wat met jou Afrikaans kan praat nie.

Haar projek:

Petra fokus veral op jeugontwikkeling en het twee projekte waarmee sy tans hard besig is. Omdat sy self die moeilike pad ken van ‘n gebrek aan die nodige fondse om te studeer, is dit vir haar besonder lekker om by die skole in die gemeenskap haar LetzTalk-projek aan te bied. Daarmee identifiseer sy talentvolle kinders en leer hulle alles van toespraak hou, tot maniere om beter te kommunikeer. Haar tweede projek is LetzDance. Sy was ook net nege jaar oud toe sy haar ander groot liefde, baldanse en Latyns-Amerikaanse danse, ontdek het. Met hierdie projek van haar wil sy veral diegene wat nog altyd wysgemaak is dat hulle twee linkervoete het, die kuns van dans leer.

Maak gerus kontak:

Indien jy op enige manier betrokke wil raak, stuur ‘n e-pos aan pattramei@gmail.com

Ambassadeursprojekte:

Klik hier om meer te leer van ons ambassadeursprojekte.