Pedro Kruger: Veel meer as die Boytjie van Brackenfell

Aangename kennis

Pedro Kruger was bloot in graad 8 toe hy as Benjamin Komoeti in die verhoogproduksie Fiela se kind, sy professionele buiging op die verhoog gemaak het. Net daar het die vermaaklikheidsbedryf hom hard en duidelik geroep. Pedro het veral bekendheid verwerf vir sy solo musiekteaterproduksies waarin hy akteur, sanger, pianis en storieverteller is. Dit sluit produksies soos Blougat’n Kwessie van Balans en Lyf in. Terwyl Pedro as spanleier opgetree het in die musiekwedstrydprogram, Liriekeraai, het Soli Philander hom as die Boytjie van Brackenfell gedoop, ’n naam wat vasgesteek het. Pedro werk deesdae net so hard agter die skerms in sy en Hennie van Greunen se produksiehuis, Wordsmith’s Theatre Factory. Een van hierdie produksies waarop hy uitsonderlik trots voel, is Lyf, wat in Engels vertaal is as Normality en waarmee hulle al by die Edinburgh Kunstefees, sowel as in New York op die planke was. Wanneer die gehoor by die teater uitstap met ’n glimlag op die gesig of trane in die oë, voel hy gelukkig omdat hy weet hy het in sy doel geslaag.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Pedro sê sy Afrikaans is pretensieloos en val lekker op die tong. Sy Afrikaans is ook vry en sonder te veel reëls.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Wordsmith’s Theatre Factory is een van die suksesvolste Afrikaanse teatermaatskappye wat Afrikaanse teater vervaardig. Pedro skep en skryf in Afrikaans en sy hele kreatiewe proses is in Afrikaans. Die wete dat ’n teks soos Lyf, wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is, sukses op wêreldverhoë behaal het, maak hom opgewonde.

Sy projek:

Benewens al die Afrikaanse teaterproduksies wat Pedro en Hennie se teatermaatskappy skep, is hy ook die kursusleier en kreatiewe hoof van die ATKV se Crescendo Liedjieslypskool. Hy mentor jong liedjieskrywers en dra so sy kennis aan ’n nuwe geslag oor. Pedro skryf ook liedjies vir Huisgenoot se kindertoep. Hy is een van die beoordelaars van die ATKV se Tienertoneelprogram. Pedro bied ook eenmaal per maand by die Tygervallei-winkelsentrum die Vallei van Sterre-program aan met bekende kunstenaars wat tussen hul musiek deur, op die verhoog met hom gesels.

Maak gerus kontak:

Om meer te hoor van al Pedro se projekte, gaan na www.teaterfabriek.co.za