Parker Makonzo: Gemaklik tussen mense

Aangename kennis

Parker Makonzo is van mening dat geen ander taal jou so welkom kan laat voel soos Afrikaans nie. Parker, gebore in Durban, het grootgeword in Ermelo waar hy gematrikuleer het aan Ligbron Akademie vir Tegnologie. Afrikaans het hom op ’n vroeë ouderdom gefassineer en hy het reeds op skool leer Afrikaans praat. Ná sy studies aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom is hy vlot Afrikaanssprekend, al is sy huistaal Engels. Parker het ’n B.Com Regte-graad voltooi asook ’n Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur. Hierdie energieke jong man werk tans by Porsche as ’n bemarkings- en verkoopsassistent terwyl hy besig is met sy internskap. Parker hou baie daarvan om mense te laat lag en waar hy is, is daar altyd vrolikheid en lig.

Vyf kitsfeite oor Parker

  • Parker het op die Noordwes-Universiteit se Studenteraad gedien in die portefeulje Verenigingsraad.
  • Hy gaan volgende jaar Londen toe vir ’n internskap by MTV UK en spesifiek by MTV Movies, MTV News en Isle MTV. Wat gaan hy die meeste mis van Suid-Afrika? Biltong, natuurlik.
  • Perdry is een van sy groot liefdes en wanneer hy die kans kry, is hy op ’n perd se rug in die buitelug.
  • Die vermaaklikheidsgogga het vroeg reeds gebyt en op skool en op universiteit was hy dikwels op die verhoog. Hy droom daarvan om eendag sy eie geselsprogram op TV aan te bied.
  • Parker gaan binnekort begin blog oor die nuutste modes, tegnologie, musiek en die pop-kultuur.

Hoe voel hy oor Afrikaans?

Parker sê juis omdat hy uit ’n Engelse agtergrond kom, wil hy graag moderne Suid-Afrikaners bewus maak daarvan dat Afrikaans net so belangrik is soos enige ander taal in die wêreld. Afrikaans, sê hy, is nie ’n taal nie maar ’n kultuur. Die aura van vriendelikheid en toeganklikheid wat hy by die meeste Afrikaanssprekendes aantref, is vir hom besonders. “Jy kan ’n totale vreemdeling ‘Oom’ of ‘Tannie’ en hulle sal jou soos familie hanteer,’ sê Parker.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan parkermakonzo@gmail.com

Volg Parker op sosiale media by: https://twitter.com/parkerrazzi
https://instagam.com/parkerrazzi