Nita Cronjé: Sy bou brûe met die kunste

Aangename kennis

Die grondslag vir Nita Cronjé se belangstelling in kuns en kultuur is reeds in haar hoërskooljare aan Hoër Meisieskool Helpmekaar gelê waar sy ’n ywerige deelnemer aan kuns- en kultuuraktiwiteite was. Sy behaal ’n Honneursgraad in Opvoedkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit en skop haar loopbaan as Afrikaans-onderwyser aan Hoërskool Vorentoe af. Die kunswêreld het egter harder as die onderwys geroep en sy was onder meer kurator van die Randse Afrikaanse Universiteit ( nou UJ) se kunsversameling. Nita het ook as publisiteitbeampte vir verskeie maatskappye soos Ster-Kinekor gewerk voordat sy in 2007 haar kundigheid professioneel by die ATKV kon aanwend. Nita is tans die Bestuurder: Feeste en Produksies van die ATKV. Sy geniet dit om padlangs deur die Swartberge, Gamkaskloof of die Sederberge te reis. Sy sonder haar familie, die kunste, goeie vriende, goeie geselskap, goeie boeke en goeie wyn uit as dinge wat die lewe die moeite werd maak. Haar enigste seun, Cronjé van der Merwe lê haar besonder na aan die hart.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Nita se Afrikaans is deur generasies aan haar oorgedra en haar liefde vir die taal is beslis oorgeërf van haar pa. Dis Afrikaans wat oor die jare saam met haar gegroei en aangepas het.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Afrikaans is ’n integrale deel van haar lewe. Vir haar is dit heerlik om jaar na jaar opwindende nuwe stemme in Afrikaans te ontdek tydens die nasionale kunstefeeste en kultuurprojekte van die ATKV. Afrikaans betree ’n nuwe fase in die hande van ’n jonger generasie wat daarin skep, en dit is baie opwindend, sê sy.

Haar projek:

Nita se spoor in die Afrikaanse kunstewêreld lê diep met TV-produksies soos Die Liedjies wat ons ken en Draadloos. By die ATKV het sy ’n groot rol gespeel in die skep van visuele kunsteproduksies soos Skilder met Woorde I, II en III; en die projek Filmverse 1 en 2; waar die digkuns en animasie ontmoet. Sy staan ook aan die stuur van die vervaardiging van die jaarlikse ATKV-Woordveertjies en -Mediaveertjies. Hierdie toekenningsgeleenthede bekroon uitnemendheid in die Afrikaanse literatuur- en mediawêreld.

Maak gerus kontak:

Besoek https://www.atkv.org.za of stuur ’n e-pos aan NitaC@atkv.org.za

Nita gesels met Pieter Cloete oor haar passie vir, met en in Afrikaans!