Nicol Stassen: Nicol lééf boeke!

Aangename kennis

Boeke het nog altyd ’n sentrale rol in die lewe van Nicol Stassen gespeel. Sy kinderjare het hy deurgebring op verskeie dorpe in veral die Karoo, want as landdros is sy pa dikwels verplaas. Dit was juis in die dorpsbiblioteke waar hy allerlei skatte soos die Fabels van Aesopus ontdek en ywerig begin lees het. Na matriek aan Hoërskool Hangklip in Queenstown, het hy ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy het uiteindelik sy M-graad in Chemiese Ingenieurswese behaal en ses maande lank as ingenieur gewerk voordat hy op ’n dag besluit het om sy liefde vir boeke ’n loopbaan te maak. Kort hierna het Protea Boekwinkel sy deure oopgemaak en mettertyd is dit uitgebrei na ’n uitgewery. Nicol het ook ’n doktorsgraad in Geskiedenis en hy het ’n intense belangstelling in die geskiedenis, veral die van die Dorslandtrek en die Afrikaners in Angola. Nicol is getroud met Chrissie-Jane, ’n musiekonderwyseres. Hulle het drie dogters, Talita, Liesl en Anna en ’n seun, Nicol.

Vyf kitsfeite oor Nicol

  1. Die eerste boek wat Nicol laat herdruk het, is FA Venter se Offerland en spoedig het meer herdrukke gevolg.
  2. Hy woon jaarliks twee boekebeurse by: die groot een in Frankfurt en die kinderboekbeurs in Bologna, Italië.
  3. Danksy Nicol se uitgewery praat JR Tolkien se hobbits en Asterix en Obelix ook nou Afrikaans.
  4. Nicol is in Junie vanjaar vereer met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir sy besonderse bydrae ter bevordering van geskiedenis as dissipline in Suid-Afrika.
  5. Benewens boeke is musiek sy groot belangstelling. Hy luister graag na Spaanse, Franse, Portugese, Duitse, Nederlandse en Afrikaanse musiek.

Nicol oor Afrikaans?

Nicol glo dis ’n universele verskynsel dat mense trots is op hul taal, maar Afrikaners oortref hulle almal. Hy sê daar is ’n ongelooflike belangstelling by gewone mense in die taal en met soveel variante en interessante woorde, sal niemand ooit vervelig kan raak in ’n gesprek oor Afrikaans nie.

Sy projek

Nicol is die skrywer van Afrikaners in Angola 1928-1975 en Die Dorslandtrek 1874-1881. Sy uitgewery, Protea Uitgewers, publiseer tussen 90 en 100 boeke per jaar, die meeste in Afrikaans. Die uitgewery vertaal ook van die wêreld se beste boeke in Afrikaans. Sekere van die ou reekse wat geen ander uitgewery wou herdruk nie, verskyn by Protea Uitgewers in ’n nuwe baadjie, soos die Jasper-reeks van CF Beyers-Boshoff en Karl Kielblock se Lafras Cuyper-boeke. Die uitgewery publiseer ook heelwat Afrikaanse digbundels en dramas.

Maak gerus kontak:

Stuur ‘n e-pos aan nicolstassen@gmail.com