Nadine Blom: Kleurvol, keurig en kreatief

Aangename kennis

Nadine Blom het ’n paar jaar gelede die stad se gewoel verruil vir ’n woonplek aan die Kaapse Weskus. Dis hier, met die dreun van Melkbosstrand se branders in haar ore, waar sy woon en werk. Nadine is reeds dertien jaar deel van die Afrikaanse musiekbedryf. In 2007 het Nadine gesien dat daar nie werklik Afrikaanse popmusiek vir ouer kinders is nie, en om aan hierdie behoefte te voldoen, is Supercool gebore. Tot op hede is daar reeds 13 Supercool-produkte vrygestel en in 2009 en 2010 het sy onder meer SAMA-toekennings vir hierdie musiek ontvang.

In 2011 het Nadine die geleentheid gekry om saam met Jawaahier Petersen, die dogter van Taliep Petersen, aan ’n fondsinsamelingsgeleentheid te werk. Nadine en Jawaahier het koppe bymekaargesit en besef daar is ’n wonderlike manier om die diversiteit in ons land, juis deur middel van musiek, te ontgin. In Maart 2013 is die Jaloersbokkies in die lewe geroep.

Alhoewel haar musikale loopbaan haar geweldig besig hou, is sy ’n vrou van vele talente. Sy werk ook gereeld agter die skerms aan verskeie musikale produksies. Nadine is boonop ’n gekwalifiseerde regsgeleerde wat tans deeltyds as ’n regskonsultant vir ’n Amerikaanse maatskappy werk. Sy doseer ook deeltyds in die regte en werk tans hard aan haar LLM in Menseregte wat fokus op Mensehandel. Haar 14-jarige seun, Adriaan, is die groot vreugde in haar lewe en hy deel haar liefde vir boeke en musiek. Vir haar is dit besonder lekker om met jongmense en kinders te gesels en te hoor hoe Afrikaans bly beweeg op die tong van ons jeug. Sy is van mening dat ’n taal net kan groei indien jongmense deel bly van die taal, en nie vervreem word deur mense wat hulle blind staar teen die suiwerheid van Afrikaans nie.

Hoe lyk Nadine se Afrikaans?

Haar Afrikaans lyk soos ’n tapisserie met verskillende teksture, kleure en klanke. Die verskillende Afrikaanse variasies wat ons hoor, praat, sing en gebruik is die teksture. Dit sluit Kaapse Afrikaans, Waterkloofafrikaans, Vlakte-Afrikaans, Namakwalandafrikaans, Korporatiewe Afrikaans en Afrikaans in die Akademie in. Dit bly alles Afrikaans, net in verskillende sfere. Dis vir haar fantasties om die geleentheid te kry om tussen die verskillende sfere te beweeg. Een oomblik lewer sy ’n referaat in Afrikaans oor Mensehandel en dan gebruik sy ’n akademiese Afrikaans en die volgende oomblik praat en sing sy in Kaapse Afrikaans wanneer sy saam met die Jaloersbokkies optree, of sy gebruik loslit-Afrikaans wanneer sy met haar kindergehore werk.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sonder Afrikaans, sê Nadine, sal sy opdroog en wegkwyn. Aangesien sy tans in Engels doseer, weet sy presies wat dit verg om telkens ’n kopskuif te moet maak om in ’n ander taal te dink. Sy het ’n besonderse waardering vir mense wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, wat bereid is om uit hul gemaksone te beweeg, en ’n sin of twee in Afrikaans te sê.

Haar projek:

Nadine is steeds baie besig met Supercool-vertonings reg deur die land. Haar nuutste Supercool-projek is Wiskunde is Supercool. Hierdie opvoedkundige CD verduidelik moeilike wiskundige konsepte soos vorms, breuke, tyd en so meer in Afrikaans. Sodoende kan kinders speel-speel, in hul moedertaal, hierdie begrippe baasraak.

Sy werk ook heerlik saam met die Jaloersbokkies. Hierdie diverse kultuur- en rassegroep vertel op ’n deernisvolle manier, op die maat van musiek, die verhaal van Afrikaans, die slawekultuur en die ontwikkeling van ons kultuur- en musiekskatte.

Maak gerus kontak:

Besoek die webtuiste http://nedineblom.co.za/ of die Facebook-bladsy https://www.facebook.com/Die-Jaloersbokkies-140603696106727/info

Ambassadeursprojekte:

Klik hier om meer te leer van ons ambassadeursprojekte.