Monique Rabé het ’n onuitputbare liefde vir Afrikaans

Aangename kennis

Potchefstroom, die universiteitsdorp in die Noordwes, is die tuiste van Monique Rabé. Monique, wat aan die Wes-Rand grootgeword en aan Hoërskool Monument gematrikuleer het, het in 2017 haar BA-graad in Taal- en Literatuurstudies, met die fokus op Afrikaans en Nederlandse taal- en letterkunde, en Vertaal- en Tolkstudies met onderskeiding verwerf. Sy wil graag met haar studies en haar interaksie met ander studente en betrokkenheid by verskeie kampusinisiatiewe en -projekte, Afrikaans help bewaar en ’n nuwe generasie ambassadeurs bou. Monique het ook verlede jaar haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands met ’n onderskeiding verwerf en is vanjaar besig met haar Meestersgraad in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap by die NWU. Haar navorsing handel spesifiek oor Afrikaans en Nederlandse taalverwerwing. Monique glo die beste dinge in die lewe is verniet: geloof; gesinseenheid, vriendskap, gelukkige herinneringe en die liefde.

Vyf kitsfeite oor Monique

  • In 2017 is Monique een van die topstudente in Afrikaans en Nederlandse taal- en letterkunde en Vertaal- en Tolkstudies aan die Potchefstroomkampus van die NWU.
  • Sy het ’n tweelingsussie, Danielle, wat meer gefokus is op rekeningkunde as op tale. Al verskil die loopbaanrigtings wat hulle gekies het, is die twee besonder na aan mekaar.
  • Monique is deel van ’n ATKV-Boekklub in Potchefstroom. Een maal per maand kom die klomp bymekaar en dan word daar heerlik gekuier en gesels oor Afrikaanse boeke.
  • Sy is aktief betrokke by studente-aktiwiteite op die Potchefstroomkampus en het ook in 2017 aan die Kampus-debatskompetisie deelgeneem.
  • Monique is ʼn ywerige leser, ʼn kunsliefhebber en hou besonder baie van ʼn lekker koppie koffie.

Monique oor Afrikaans

Monique se liefde vir Afrikaans lê in die feit dat Afrikaans ʼn taal van sy mense is. Afrikaans, sê sy, is ʼn taal met ʼn unieke woordeskat, lekkerbek-uitdrukkings en dit is diepgesetel in die harte van al sy sprekers.

Haar projek

Monique se onuitputbare liefde vir Afrikaans en sy mense het haar studierigting sterk beïnvloed en sy geniet haar studies in Afrikaans en Nederlands geweldig baie. Sy is ook werksaam by die skryflaboratorium van die NWU se Potchefstroomkampus. Die hoofdoel van die skryflaboratorium se ontwikkelingsprojek is onder meer om die Afrikaanse studente se akademiese en kreatiewe skryfvermoëns te verbeter en hul vernuf om hulself goed in hulle eie taal uit te druk, verder te slyp.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan moniquerabe7@gmail.com
Volg haar op Instagram by @monique__rabe
Facebook: https://www.facebook.com/monique.rabe.359