Mercy Kannemeyer wil skep, skryf en speel

Aangename kennis

Die dag toe Mercy Kannemeyer se pad met drama gekruis het, het alles vir haar verander. Van die baie skaam dogtertjie wat gesukkel het om in graad R aan te pas, is daar deesdae nie meer sprake nie. Sy het in Port Elizabeth gematrikuleer aan Hoërskool D.F. Malherbe. Mercy het in 2017 haar honneursgraad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en het aan die begin van 2018 met haar M-graad in toegepaste teater aan dieselfde universiteit begin. Sy fokus sterk op bewusmaking en die mag van teater om sosiale kwessies te belig, maar terselfdertyd probeer sy plekke vind waar sy haarself nie so ernstig hoef op te neem nie. Sy is ʼn baie sterk voorstander vir die vryheid van spraak, maar beklemtoon dat ʼn mens nooit hierdie voorreg mag misbruik deur die vryheid van spraak in haatspraak te omskep nie. Mercy droom daarvan om so lank as wat sy kan, te skep, skryf en speel.

Vyf kitsfeite oor Mercy

  • Mercy is in 2017 deur die Afrikaanse Taalraad met ʼn erepenning bekroon vir haar dokumentêre program, Die ander kant/ The Other Side
  • In Die ander kant/ The Other Side vra Mercy die belangrike vraag: Wat gaan gebeur wanneer Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch afgeskaf word? Sy klop by talle kenners aan om ʼn antwoord op die vraag te kry.
  • In haar vrye tyd lees sy graag en woon gereeld teaterproduksies by.
  • Die dinge wat Mercy opgewonde maak is teater, koffie, wyn en boeke.
  • Na haar meestersgraad wil sy graag haar PhD in drama en teaterstudie doen.

Mercy oor Afrikaans

Afrikaans is, as haar moedertaal, vir Mercy geweldig belangrik en sy fokus baie sterk op die waarde van moedertaalonderrig. Sy is dankbaar vir goeie onderwysers wat haar aangemoedig het om in Afrikaans te lees en te skryf.

Mercy se projekte

Van Mercy se eerste gedigte wat gepubliseer is, verskyn in Penseel 2016. Met haar dokumentêr, Die ander kant/ The Other Side, het Mercy ʼn belangrike platform geskep om aan ander jongmense te wys dat ʼn mens belangrike kwessies, wat na aan jou hart lê, ʼn stem móét gee. Sy hoop om met haar video te wys dat Afrikaans steeds ʼn regmatige plek as onderrigtaal op Stellenbosch verdien. En dit wat sy hoop vir Afrikaans, is wat sy hoop vir al die ander ampstale in ons land.

By 2018 se Woordfees is Mercy betrokke by twee teaterproduksies: as regisseur by “Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika” en as skrywer en aktrise by “Prinz Bettliegend.” Sy is ook as gespreksleier betrokke by verskillende van die Diskoers-gesprekke, en neem deel aan straatteater en storievertelteater.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan jjmercyk@gmail.com
Volg haar op Facebook: https://www.facebook.com/mercy.kannemeyer
Instagram: https://www.instagram.com/mercyy_kannemeyer/
Twitter: https://twitter.com/MercyKannemeyer