MD Greyling: Musiek wat uit die hart uit kom

Aangename kennis

Musiek loop soos ʼn goue draad reg deur die lewe van die sanger en liedjieskrywer, MD Greyling. Reeds in die laerskool het hy klavier- en kitaarlesse geneem en in Afrikaanse Hoër Seunskool het hy musiek as vak gekies. Dit was die regte keuse en op die ouderdom van 16 het MD sy eerste liedjie geskryf. Na skool het MD jazz aan die TUT (Tshwane University of Technology) gaan studeer en dadelik begin met optredes in kuierplekke, teaters, skoolsale en feeste. Sedertdien het hy homself gevestig as ʼn talentvolle liedjieskrywer en verskeie Afrikaanse kunstenaars het al van sy liedjies opgeneem. In 2013 het MD se loopbaan as omroeper afgeskop by Groot FM. MD is reeds vir die afgelope vier jaar deel van die Pretoria FM-span. MD sonder sy werk en sy gesin uit as die dinge wat die lewe die moeite werd maak. Hy is getroud met Denise en hulle twee seuntjies, Divan (2) en Lenro (1), verskaf ma en pa groot vreugde. Hy geniet dit om met vriende te kuier want, sê hy, lag en samesyn bring balans in die lewe.

Vyf kitsfeite oor MD

  1. In 2003 is MD by die Geraas Musiektoekennings aangewys as die ‘Beste Nuweling’.
  2. Hy is ʼn lid van die gewilde musiekgroep 6 Snare wat gehore gereeld beïndruk met hulle vaardighede op kitare en ander snaarinstrumente.
  3. Die 6 Snare het ʼn geweldige belangrike rol in sy loopbaan gespeel omdat hy daar geleer het om musiek te maak wat uit die hart uit kom.
  4. MD het reeds vier soloalbums vrygestel: Droomkasteel, Binne my, Foto’s teen die muur en MD Greyling.
  5. Hy geniet dit om saam met Denise te oefen en glo oefening is ʼn natuurlike antidepressant sowel as ʼn goedvoelinspuiting.

MD oor Afrikaans

Afrikaans, sê MD, is die mooiste, soetste taal wat diep in sy are vloei. Om in sy moedertaal te kan skryf, dig en sing, gee aan hom die vryheid om te sê wat in sy hart is.

Sy projek:

Oor die jare het MD musiek geskryf vir kunstenaars soos Theuns Jordaan, Mathys Roets, Thys die Bosveldklong en Hugo. Sy werk as omroeper by Pretoria FM is vir hom besonder lekker. By hierdie Afrikaanse gemeenskapsradiostasie kry hy die kans om saam met ʼn dinamiese span onbeskaamd die motto uit te leef: ‘Hoop, Glo en Leef – In Afrikaans’ MD bied elke weeksmiddag, tussen 14:00 en 16:00 die middagskof op Pretoria FM aan.

Maak kontak

Stuur ʼn e-pos aan md@pretoriafm.co.za

Volg hom op Twitter: @mdgreyling

Facebook: https://web.facebook.com/profile.php?id=100009365760383

MD se profielfoto is verskaf deur riekiekies.com