Marlene le Roux

Marlene le Roux: Kuns bruis deur haar are

Marlene le Roux verwys tereg na haarself as ’n lewende wonderwerk. Sy was slegs drie maande oud toe sy polio opgedoen het wat haar gestremd gelaat het. Sy moes met ’n ysterstut aan haar been oor die weg kom, maar dit het haar geensins teruggehou nie. Kyk ’n mens na die lang lys toekennings wat sy deur die jare ontvang het vir die fantastiese werk wat sy in die gemeenskap gedoen het, is dit baie duidelik dat sy werklik ’n verskil in die lewe van baie mense maak of gemaak het. Marlene is in November 2015 aangestel as die nuwe Uitvoerende Hoof van die Kunstekaap, Kaapstad se pragtige teaterkompleks.

Marlene se herkoms is ver verwyder van die stadsliggies en enige glans en glorie. Sy is ook nie skaam om te vertel van haar grootwordjare in ’n beskeie skemahuisie in Wellington nie. In die middel van die huisie het die klavier gestaan wat haar ma en ouma vir haar gekoop het. Dit was vir haar die wegspringplek na ’n beter lewe.

Nadat Marlene matriek geskryf het aan Hoërskool Bergrivier in Wellington, skryf sy in vir ’n BA (Musiek) aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy gradueer in 1989 en behaal haar HOD die volgende jaar. Marlene verwerf haar BEd-graad in 1996, ook aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Haar heel eerste pos in 1992 was die van ’n musiekonderwyseres, maar sy het sommer ingespring en ander vakke ook gegee. Vir haar was die musiek ’n wonderlike manier om kinders van die straat af te bring en hulle talente te help ontwikkel. In 1996 word sy aangestel as vakadviseur by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, ’n posisie wat sy beklee totdat sy in 2001 by die span van die Kunstekaap as die Uitvoerende Hoof: Gehoorontwikkeling en -opvoeding, aansluit.

Dié taak pak sy met oorgawe aan en die lang lys toekennings wat sy gedurende hierdie tydperk ontvang, getuig van haar reuse bydrae tot die samelewing. Dit sluit toekennings in soos ’n Franse Ridderskap in die Uitvoerende Kunste (2002), die Ordre National Du Mérite van die Franse regering (2012), die Deutschen Afrika Preis van die Duitse regering (2012) en die Desmond Tutu Legendary Award (2001).

Met haar aanstelling as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Kunstekaapsentrum, maak Marlene opnuut geskiedenis. Eerstens is sy die eerste bruin persoon in hierdie uitvoerende amp, en tweedens is sy die eerste vrou om die posisie te beklee. Iets waarop sy voortaan gaan fokus, is om ook die armes aan die kunste bloot te stel en op daardie manier aan jongmense ’n alternatief vir ’n beter toekoms te bied.

Sy dien op verskillende rade se direksies en is onder meer die voorsitter van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans. Marlene is ook ’n trustee van die Desmond en Leah Tutu-stigting. Marlene is tans voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Sy is ook die voorsitter van die Chrysalis Academy, ’n jeugvaardigheidsakademie.

Marlene doen baldanse in haar vrye tyd en sy hou van swem en lees. Haar nuutste projek waaraan sy werk is ’n sosiale klub vir gestremdes. Baie gestremdes word nooit na enige sosiale geleentheid genooi nie, en Marlene wil dit verander.

Haar pragtige dogter Aimee, is tans ’n student. Haar seun, Adam, is serebraal gestremd en in ’n rolstoel. In Boston waar hulle woon, ken almal vir Adam en word hy vriendelik gegroet waar hy ook al gaan.

Marlene is eerlik en uitgesproke oor die negatiewe implikasies wat apartheid op haar lewe en die lewe van ander mense in die gemeenskap waar sy grootgeword het, gehad het. Nes sy, is hulle almal Afrikaanssprekendes. Nou wil sy graag Afrikaans ook gebruik om mense by mekaar uit te bring. Dis vir haar belangrik dat ons nie mag dink dat ons al die probleme van die verlede oorkom het nie. Daar moet voortdurend bestekopname gemaak word om te besluit hoe ons vorentoe gaan beweeg. Afrikaans mag nooit weer gebruik word om mense uitmekaar te skeur nie, sê sy.