Mark Johannes: Liedjieskryf kom ’n lang pad

Aangename kennis

George waar hy grootgeword het, sê Mark Johannes, is die naaste wat ’n mens tydens jou aardse lewe aan die hemel kan kom. Reeds as jong seun het hy begin eksperimenteer met die skryf van liedjies, maar daar het baie water in die see geloop voordat hy as liedjieskrywer ’n deurbraak kon maak. Mark was jare lank ’n motorverkoopsman en het ook self handel gedryf in tweedehandse motors. In 2014 het Mark sy liedjie, Bok Toi Toi ingeskryf vir kykNET se Afri-Visie. Al het dit nie die top-26 gehaal nie, het die video van die liedjie deel gevorm van kykNET se Rugbywêreldbekerveldtog. Mark het sowat tien jaar gelede na Kaapstad verhuis en is getroud met Theresa. Hy het ’n dogter en ’n seun uit sy eerste huwelik. Deesdae hou hy hom voltyds besig met die skryf van liedjies en advertensieklingels.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Hoewel Mark mal is oor Kaaps, is dit nie die dialek wat hy in sy alledaagse wandel gebruik nie. Hy praat suiwer Afrikaans, maar geniet die taal in al sy vorme en tonge, sonder om puristies te wees.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Met sy musiek lewer Mark kommentaar oor al die sosiale woelinge in die wêreld rondom hom. Benewens sy liedjies het hy ook ’n verhoogstuk, Thomasstraat, jy praat deur jou nek geskryf met komiese staaltjies uit die straat waarin hy grootgeword het.

Sy projek:

Mark het in die middel van 2015 besluit om hom voortaan voltyds op sy roeping as Afrikaanse liedjieskrywer toe te spits. Hy het in die laaste jaar meer as 60 Afrikaanse liedjies geskryf, en wil dit graag opneem, wat natuurlik ’n baie duur proses is. Intussen probeer hy om as skrywer, musikant en sanger soveel as moontlik fondse bymekaar te maak om die studio-uitgawes te dek. Enige instansie of maatskappy wat van sy dienste gebruik wil maak, sal Mark help om hierdie droom gouer te bewaarheid. Mark het onder meer liedjies geskryf vir die DA se 2016-verkiesingsveldtog, asook ’n klingel vir Son, een van Media 24 se koerante.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan markjohannes9@gmail.com of skakel hom op 061 748 5094.