Maritza Uys: Maritza glo elkeen moet kan uitstyg

Aangename kennis

As jong meisie het Maritza Uys ’n gelofte afgelê om haar lewe te wy aan die bewaring van God se Skepping en die aarde se natuurlike hulpbronne. As water- en hulpbronregsadviseur doen sy dit op ’n daaglikse basis. Maritza het haar regstudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi voordat sy haar klerkskap by ’n regspraktyk in Johannesburg begin het. Sy het later as advokaat toenemend gefokus op water- en hulpbronregte en onder meer die omvattende boek oor waterreg, Water Law of South Africa 1912 – 1998 geskryf. Hierdie publikasie oor waterregte in ons land, was ’n eerste in sy soort. Maritza woon in Komatipoort en sy het vier kinders wat haar besonder na aan die hart lê. Uitnemendheid maak haar opgewonde en deur redenaars, debat, drama en spraakkuns af te rig, rus sy jongmense prakties toe om toenemend bo middelmatigheid uit te styg.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Maritza sê sy is ’n pyn in die jis oor korrekte spelling en taalgebruik, veral op sosiale media. Haar Afrikaans lyk soos sy want Afrikaans is haar wese.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Maritza dring aan op die toepassing van haar grondwetlike reg tot Afrikaans, maar dis ook vir haar lekker om met ander mense in hul taal te probeer praat. So wys sy ook dat sy hul gelyke grondwetlike regte respekteer.

Haar projek?

Kleintyd het Maritza as lid van die Voortrekkers haar liefde vir Afrikaans en die Afrikanerkultuur gekweek. In 2010 het sy die behoefte aan Afrikaanse kultuuraktiwiteite op Komatipoort raakgesien en ’n Voortrekkerkommando op die dorp gestig. Die Onderberg Voortrekkerkommando in Komatipoort het behoorlik vlamgevat en in 2016 is daar ongeveer 75 aktiewe lede. Sy glo die Voortrekkers is die medium waardeur sy ’n betekenisvolle rol kan speel om die plattelandse Afrikanerjeug tot diensbare leiers, konsekwente Christene en positiewe burgers te slyp. “Stuur die plattelandse Laeveldse jeug… ons maak hulle opregte moderne Afrikaners, sonder bagasie!” nooi Maritza almal uit.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan muys@lantic.net