Magdalene Minnaar: Vernuwend en dinamies

Aangename kennis

Musiek was nog altyd deel van Magdalene Minnaar se lewe. Sy was bloot drie jaar oud toe sy met musiekles begin het. Deesdae pryk daar ’n lang lys internasionale produksies op die biografie van hierdie talentvolle koloratuursopraan. Dis rolle in bekende operas soos Rigoletto en Don Giovanni, maar ook musiekblyspele soos Show Boat en The Phantom of the Opera. Sy het haar honneursgraad in musiek aan die Universiteit van Kaapstad behaal en daarna by die Kaapstadse Operastudio aangesluit. Magdalene het haar ambag verfyn aan die New Yorkse Operastudio. In haar loopbaan het sy al verskeie toekennings ontvang onder meer die Mimi Coertse-sangprys, ’n Kanna- en ’n Sama-toekenning. Sedert 2010 bestuur Magdalene Biblioteek Musiekproduksies, haar produksiemaatskappy wat in teatermusiek spesialiseer. Die Afrikaanse operas Poskantoor en Waansin, is deur die produksiemaatskappy vervaardig. Die dinge wat haar werklik gelukkig maak, is die teater, goeie vriende, lekker koffie, haar man en haar seuntjie.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Magdalene sê haar Afrikaans is kleurvol, volmaak, volrond, volroom, vol foute en bo alles volstaan dit die tyd. Vir haar is die heel mooiste woorde wat sy nog ooit gehoor het, die woorde van Breyten Breytenbach:
“Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek
donker –”

Hoe leef sy in Afrikaans?

Magdalene het ’n besondere liefde vir tale, maar tog is dit Afrikaans wat haar die naaste aan die hart lê. Sy dink in Afrikaans en haar gunstelingtaal waarin sy sing, is Afrikaans. Maar dit bly nie net by sing nie, Magdalene dig en droom ook in Afrikaans.

Magdalene se projek:

Magdalene is baie trots op Biblioteek Produksies waar sy nuutgeskepte Afrikaanse operas, musiekteater en produksies met Afrikaanse kunsliedere vervaardig. Op daardie manier dra sy graag by tot ons erfenis en die vernuwing van Afrikaans in klassieke musiek.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan productions@biblioteek.co.za

YouTubekanaal – MagdaleneMinnaar