Lundi Khoisan: Trots op wie sy is

Aangename kennis

Lundi Khoisan se liefde vir musiek het al op driejarige ouderdom begin toe sy nooit sonder haar Walkman was nie. Die bandopnemer het haar ook ure se genot verskaf en sy het self haar eie “radioprogramme” gemaak en dan weer daarna geluister. Lundi het grootgeword in Wellington, die tuisdorp van groot geeste soos Adam Small en Breyten Breytenbach. Toe haar pa voorgestel het dat sy na skool in die fabriek waar hy werk moet inspring, het sy gekies om dit nie te doen nie. Haar motto was nog altyd om nie die massas te volg nie. Wees anders, wees wie jy is, sê sy.

Lundi is iemand wat nog nooit van haar herkoms weggeskram het nie en dis juis wat haar gemotiveer het om haarself die bynaam ‘Khoisan’ te gee en dit in stede van haar van te gebruik. Na skool het Lundi haar honneursgraad in Drama aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy het ook Verkope en Bemarking by Wits se Radio Akademie studeer. Lundi is sedert 2010 ’n radio-omroeper en platejoggie en het onder andere by MFM 92.6 en Wits FM gewerk. Nadat sy tydens ’n talentkompetisie in 2013 ontdek is, het sy by Jacaranda FM aangesluit. Lundi se langtermyndoelwit is om terug te ploeg in die gemeenskap – soos die een waarin sy grootgeword het. Sy sal graag haar kennis en vaardighede wil deel met enigeen wat dit nodig het.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Lundi sê haar Afrikaans is Paternoster se kreefsmouse en die Wagenmakersvallei se wynmakers, haar familie se nuutskeppings en die bry waarmee daar gepraat word om die braaivleisvuur. Haar Afrikaans is die dialek wat lewe aan haar stories gee.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Lundi bied haar radioprogram in Afrikaans én Engels aan, maar dis wanneer sy so lekker bry dat haar Afrikaanse luisteraars werklik tuis voel.

Maak gerus kontak:

Stuur ‘n e-pos aan lundicavernelis@gmail.com 
Webtuiste: www.khoisanlove.co.za
Facebook: Lundi Khoisan
Twitter: @Lundi_Khoisan #KhoisanLove
Instagram: Lundi_Khoisan