Louis L.S.J. Krüger se liefde vir die woord loop diep

Wie is Louis L.S.J. Krüger?

Hy het reeds in 1973 sy digterspen opgetel en vandag spog hy met ’n digbundel op die rak. Met die hulp van sy Afrikaansonderwyseres, mev. Marie Heunis en later prof Rena Pretorius, wat hom haar “ingenieur-digter” gedoop het, het Louis se besonderse talent vir die digkuns posgevat en ontwikkel.

Die passie vir skryf het hom universiteit toe gevolg waar hy as die redakteur van Ingenieurshuis se koerant diens gedoen het. Daarna het hy gedurende sy diensplig ook 14 maande lank sy plek  as fotojoernalis by die weermagtydskrif Paratus volgestaan.

Alhoewel hy vandag as ’n elektroniese ingenieur werk, verloor hy homself steeds in sy digkuns.

Gedurende die eerste helfte van 2018 het hy spoed begin aandraai met sy skryfwerk wat uiteindelik tot die publikasie van sy debuut-digbundel Jaarring XXXV: ’n Kissie vol verse in September 2018 gelei het.

As hy nie besig is om te skryf nie geniet hy dit om amateurradio te vervaardig, rekenaarprojekte aan te pak of familienavorsing te doen.

Afrikaans is vir hom…

Afrikaans is vir hom die taal waarin hy bid, praat, lees, skryf en dig.

Sy projekte:

Hy het onlangs betrokke geraak by ’n projek genaamd “In die begin was die woord” wat deur Alida Marais op die been gebring is. Dit is ‘n maandelikse byeenkoms waar digters die geleentheid kry om hul werk voor te lees. Deesdae is hy permanent deel van die hoofprogram.

Verder beoog hy ook om vanjaar ’n kamp vir digkuns te organiseer en ’n internet-boekwinkel vir selfgepubliseerde, onafhanklike skrywers te stig.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan llsjk@lakruger.za.org