Lindie van Gass: Lindie wil inspirerende stories en hoop versprei

Aangename kennis

Al is Lindie van Gass tans besig met haar Magistergraad in Finansiële Bestuur, bly sy steeds in hart en siel ’n kaalvoet plaasmeisie wat geïnspireer word deur mense en woorde. Lindie het op ’n plot buite Mooinooi grootgeword en aan Hoërskool Brits gematrikuleer. Sy is tans besig met haar Meestersgraad in Finansiële Bestuur, met die fokus op Beleggingsbestuur en werk deeltyds by ’n aandelemakelaar. Lindie het ’n heerlike humorsin en huiwer nie om spontaan, hardop te lag nie. Sy droom oor die dag wat sy iets so goed kan verwoord dat ander mense haar woorde sal gebruik om ’n gevoel te beskryf.

Vyf kitsfeite oor Lindie

  1. Lindie is die agterkleindogter van die aktrise Wena Naudé.
  2. Sy is ’n koffieliefhebber wat alewig besig is om oulike koffiewinkels met die lekkerste koffie uit te snuffel.
  3. Lindie was bloot in Graad 10 toe sy haar eerste jeugroman, Rigtingbeneuk geskryf het.
  4. Lindie dien op TUKS se Wynproevereniging en is veral lief vir ’n heerlike glas rooiwyn.
  5. Haar gunstelingplek om te skryf, is in ’n koffiewinkel waar die tyd maklik kan gaan stilstaan.

Lindie oor Afrikaans?

Haar liefde vir die Afrikaanse taal het beslis sy oorsprong in haar ouerhuis, sê Lindie. Haar ma het altyd reg gestaan om aan die gesin ’n nuwe idioom of uitdrukking te leer. Dis veral die rykheid van die Afrikaanse taal wat haar opgewonde maak. Sy wil graag by ander jongmense ’n liefde vir woorde, veral Afrikaanse woorde wek.

Haar projek

Lindie het reeds twee jeugverhale geskryf wat sy onafhanklik uitgegee het. Die boeke, Rigtingbeneuk en Wintersvlei se magic kan beide by haar bestel word. Sy bedryf ’n blog, Cappuccinos in 1931, waarin sy stories oor interessante en inspirerende mense deel. Sy het ook ’n Instagramblad waar sy haar eie skryfwerk publiseer. Op die blad plaas sy ook ander mense se foto’s met die nodige erkenning, en deel allerlei Afrikaanse hutsmerke.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan lindievangass@gmail.com
Twitter: @lindievangass
Besoek www.cappuccinos.wordpress.com