Lente Swift se Afrikaans is haar vaartuig waarin haar hart dink, voel, droom en grootword

Ontmoet vir Lente

Lente, wat in Durbanville woon, is ’n prokureur, mediator en ’n Afrikaanse blogger. Sy is ’n stigterslid, direkteur en skrywer by “Die Naguilklub”. In haar vrye tyd skryf sy graag, doen sy klere- en dekor-inkopies en stilering. Sy doen ook joga, fliek, lees en reis graag en hou daarvan om haar geliefdes te onthaal. As sy haarself in een (of twee) sinne moet opsom, sal dit wees: “Ek is ’n sonskyn maltrap met sterk opinies en baie liefde. ’n Dinamiese, praktiese probleemoplosser en ewige optimis.”

Vyf dinge wat waarde tot haar lewe toevoeg:

  1. Haar gesin en familie. “Hulle gee betekenis aan wat ek doen, en is die inspirasie agter alles. Hulle is my rasieleiers, hou my geanker, ontbloot my nonsens en herinner my aan wat eintlik belangrik is.”
  2. “Die Naguilklub”. “My breinkind en die kreatiewe spasie waar ek kan skep en ontdek. Voor ‘Die Naguilklub’ het ek nie eens geweet van die drome in my hart wat tans besig is om waar te word nie. Hierdie vroue is ook van my kosbaarste vriendinne wat my uitdaag, beter maak en sonder oordeel lief het.”
  3. ’n Persoon van karakter en integriteit. “Genade, wat help dit ons het die wêreld verower, maar in die proses het ons ons siel, karakter en Skepper verloor? Vrede in my hart en om na myself in die spieël te kan kyk is dié kosbaarste skat – ’n lewe sonder spyt en ‘wat as’.”
  4. Haar gesondheid. “Ek het ongelooflike respek vir my liggaam, die vaartuig waardeur ek die lewe en al sy omvang ervaar. Wat my laat hardloop, my trane laat huil, my kinders binne my kon weef en kon voed en kan vashou. Hande om mee te werk en lief te hê. Sintuie om skoonheid te kan indrink, sjokolade te kan proe en musiek oor jou te kan laat spoel. Uit hierdie plek van respek en liefde kyk ek mooi na haar en hou haar sterk en gesond sodat ons nog baie berge saam kan verower.”
  5. Haar klerekas. “Wat kan ek sê? Om mooi aan te trek maak my gelukkig. So diep en oppervlakkig soos dit is. Hoe ons aantrek is ’n refleksie van hoe jy jouself, en die milieu waarin jy beweeg, sien. Ons trek goed aan uit respek vir ander.”

Wat maak Afrikaans vir haar #onmisbaar?

Sy is ’n ma van twee woelige kleuters en Afrikaans gee vir haar die woorde om hulle lief te hê, woorde om hulle te troos, woorde om in te raas en blaas, woorde om in te bid en as sy kliphard sing of saggies neurie: “Die padda wil gaan opsit by sy nooi in die vlei.” “Een aand op ’n kattebasaar.” En veral “My hart blom wit vir die Voshaarnooi.” Dan mis sy haar eie ma en ouma, wat toe, net soos sy nou, die volgende generasie in Afrikaans leer leef en dink en droom het.

Om in Afrikaans te skryf is haar kreatiewe ontvlugting waar sy kan skep en droom en sin maak van die wêreld.

Haar projek

Sy is ‘n stigterslid, direkteur en skrywer by “Die Naguilklub”, wat tans onder meer ’n gereelde rubriek in Finesse-tydskrif het en ook weekliks op Radio Helderberg gesels.

Volg Die Naguilklub:

(Facebook icon) @dienaguilklub

(Instagram icon) @dienaguilklub