Laré Birk: Passievol & ambisieus

Aangename kennis

Laré Birk is op haar gemaklikste op ‘n filmstel. Dié bekende aktrise het haar BA honneursgraad aan die Universiteit van Potchefstroom behaal. Sy het haar loopbaan agter die kamera begin as deel van die tegniese span, maar nadat sy ‘n handvol toekennings by die Uitvoerende Kunste Wêreldkampioenskappe in Los Angeles ingepalm het, het sy haar liefde vir toneelspel aangepak.

Laré het ondersteunende rolle in films soos Musiek vir die AgtergrondSuurlemoenBallade vir ‘n EnkelingPaw Paw vir my DarlingVir Altyd en Alexia vertolk. Sy’t ook die vroulike hoofrol in Leon Schuster se film, Schuks! Your Country Needs You, vertolk. Sy maak ook gereeld ‘n draai op die kleinskerm en was in Deon Opperman se televisiereeks Sterlopers, te sien waar sy die rol van Anel vertolk het. Laré het in 2015 met Dearest Elle haar debuut as regisseur gemaak. Dié film het die toekenning vir Beste Bestaande Kortfilm by die kykNET Silwerskermfees gewen.

Laré is ‘n kranige sakevrou; haar onderneming Woodlady, vervaardig meubels van herwinde hout. Sy is ook die mede-eienaar van Grain Food and Wood, ‘n deli in Maboneng, Johannesburg.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Vir Laré is Afrikaans huis. Dis deel van wie sy is, dis kreatief en sy is van mening dat daar baie woorde is wat jy nét in Afrikaans kan sê.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Laré se ma is van die Weskus en sy’t daardie unieke Weskus bry geërf. Sy sê dit laat haar voel asof sy deel is van iets spesiaal. Sy’s ook vas oortuig daarvan dat die taal se diversiteit vir ongelooflike films sorg – en sy is trots om deel daarvan te wees.

Haar projek?

Laré hoop om aan gehore te wys dat Afrikaanse films die potensiaal het om kers vas te hou by die beste in die wêreld. Sy doen dit deur films van hoë gehalte te vervaardig.

Maak gerus kontak:

Facebook: Laré Birk
Twitter: @larebirk
Instagram: @larebirk
Webtuistes: www.woodlady.co.za | www.grainfoodandwood.co.za