Lara Erasmus is altyd gereed om in Afrikaans te reis

Aangename kennis

Lara Erasmus is ’n plaasmeisie wat in die stad grootgeword het. Lara se passie vir mense maak dat sy ’n gesprek aanknoop met wie ook al oor haar pad kom. Lara het gematrikuleer aan Helpmekaar Kollege in Braamfontein en hierna het sy ’n B.Com- en B.Com Honneursgraad in Beleggingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria voltooi. ’n Groot hoogtepunt van haar universiteitstudies was die jaar en ’n half wat sy werksaam was by TUKS FM waar sy onder meer die middernagskof, ook bekend as die Aspoestertjie-skof, en later die oggendskof, hanteer het. Lara het 2017 opsy gesit om te reis: eers na Frankryk vir drie maande, en daarna gaan sy vir ses maande in Buenos Aires, Suid-Amerika, werk.

Vyf kitsfeite oor Lara

  • Op hoërskool was Lara die sosiale en akademiese redaktrise van die skoolkoerant, Die Helpie Flitse en sy het verskeie kreatiewe skryfkunspryse gewen.
  • In dieselfde tyd wat sy aan UP studeer het, het Lara ’n teologiese sertifikaat aan SATS (South African Theological Seminary) verwerf.
  • Lara praat gespreks-Frans, en leer tans Spaans.
  • Sy is ’n groot 7de Laan-kyker en mis vir geen geld in die wêreld ’n episode van hierdie sepie nie.
  • Lara versamel graag boeke uit tweedehandse boekwinkels, veral die met ’n boodskap voorin.

Hoe voel sy oor Afrikaans?

Afrikaans is vir haar die taal waarin sy gemaklik voel en heerlik lag, en tog is dit die taal wat haar die meeste uitdaag en leer. “Afrikaans,” sê sy, “is die glimlag wat eers in my kuiltjies verskyn en lank daarna in my oë bly sit.”

Haar projek

Saam met Jolene Potgieter het Lara in Desember 2016 die Instagram-blad @reisafrikaans begin en beplan om binnekort ’n webtuiste te skep. Die doel van hierdie blad is om oud en jonk op ‘n alternatiewe lewensroete te neem… een waar ’n mens nie dadelik werk en trou en kinders kry nie. Lara gaan vanjaar haar buitelandse ervarings op hierdie blad deel terwyl Jolene se fokus op plekke en persone in Suid-Afrika gaan val. Hulle nooi mense om foto’s, verhale, vrae en wenke per e-pos of Instagram te stuur. Bekendes soos Schalk Bezuidenhout, Antjie Krog en Tobie Cronje, vertel op hierdie blad van ’n reis wat hulle ewig sal bybly.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan erasmuslara@gmail.com en volg haar op Instagram by @reisafrikaans