Kim Meissenheimer: Kim blom ook in Namakwaland

Aangename kennis

Kim Meissenheimer se wortels lê in Leliefontein, ’n klein sendingstasie-dorpie in die Kamiesberge naby Kamieskroon. Namakwaland, sê sy, het ’n groot aandeel in wie en wat sy is. Kim het aan Hoërskool Springbok gematrikuleer. Na ’n jaar of wat is sy Kaapstad toe waar sy ’n diplomakursus in joernalistiek aan City Varsity voltooi het. Hierna het Kim ’n internskap in kommunikasie by ’n nie-regeringsorganisasie in Springbok, Conservation South Africa, voltooi en dit was vir haar heerlik om nader aan die huis te wees. Kim het ook al as omroeper by NFM en Radio Weskus gewerk en het onder meer die program, Ekologika, wat op omgewingsake fokus, aangebied. Kim is die ma van Kyle, ’n 5-jarige seuntjie en dis vir haar heerlik om hom op die platteland groot te maak.

Vyf kitsfeite oor Kim

  1. Kim was die wenner van ronde 3 in die “Hoe lyk jou Afrikaans?”-kompetisie en het uiteindelik met die R5 000-verrassingsprys weggestap vir haar gedig oor Afrikaans.
  2. Kim is ’n ywerige fotograaf wat veral daarvan hou om natuurfoto’s te neem.
  3. Natuursake en die beskerming van die omgewing lê haar na aan die hart en sy wil boere in haar omgewing oor klimaatsverandering, waterbesparing en soortgelyke kwessies, inlig.
  4. Kim wil graag toenemend betrokke raak by die Thuthuzela-sentrum op Springbok, want mishandelde en verontregte vroue en kinders is iets wat ons nie durf toelaat nie.
  5. Reeds op negejarige ouderdom het Kim haar maatjies en familie getrakteer met haar verwerkings van ou sprokies soos Die Drie Varkies.

Hoe voel sy oor Afrikaans?

Vir Kim is Afrikaans ’n taal van liefde en passie. Dis ’n taal gevul met kleurryke spreekwoorde en gesegdes wat mense vir jare al laat lag. Dis meer as net ’n taal.

Haar projek

Kim is tans besig om te skryf aan ’n boek wat gebaseer is op ’n vrou in die gemeenskap se lewe, maar sy laat haarself baie digterlike vryheid toe en die storie is dus nie bloot net biografies nie. Twee van haar kortverhale is opgeneem in ’n bundel: Namakwaland se stories. Kim droom daarvan om ’n boekklub te begin waar hoërskoolleerders sal kan saamgesels oor Afrikaanse boeke en ook geleentheid kry om van die boeke te lees en met mekaar uit te ruil.

Maak gerus kontak:

Maak kontak: Stuur ’n e-pos aan kim.meissenheimer@gmail.com
Volg haar op Instagram: meisskim of Twitter @Kimi_kim
Gaan loer in op haar blog: kimiheartlife.blogspot.com

Afrikaans, my taal, my trots.

Afrikaans is my trots, my rots en my gunstelingtaal in die wêreld.
Dit is die Naas Botha wat my rugbyspan laat wen,
Die Hansie Cronjé wat die bal in die ligte laat swem.
Dit is die Wayde van Niekerk van my Olimpiese spele
Dit is die hemel op my Tafelberg se dele.
Dit is die biltong en bier
rondom ’n braaivleisvuur.
Dit is die vuur wat in my knetter en die Karoo se kaktus.
Dit is die rieldans op die Namakwaland se vlaktes.
Dit is die taal waarin ek my kinders gaan grootmaak,
Dit is die taal wat tot in my binneste raak,
Dit is die blou van die hemel, die diepte van my see,
Dit is my ewige gebergte waar my kranse antwoord gee…
Dit is die taal waarin ek lag, waarin ek huil en waarin ek bid,
Ek dink in Afrikaans, ek droom in Afrikaans,
Dit stroom na my mond en vlieg soos ’n duisend vuurvliegies oor my lippe,
Dit klim en klouter in my soos bobbejaan se kind op die klippe.
Dit is die taal van my hart, en die lied van my siel,
die herinnering van my voorouers en die stem van my toekoms.
Dit is my Afrikaans, dit is my taal, my trots.