Karin Behrens: ʼn Boekwurm soos min

Aangename kennis

Vandat Karin Behrens in graad 1 leer lees het, het sy nog nooit weer opgehou nie. Karin sê haar liefde vir boeke is beslis in haar gene, want albei haar ouers is baie lief vir lees en by haar ouer broer, wat self ʼn boekwurm is, het sy van kleins af geleer hoe om ʼn boek mooi op te pas. Nadat sy aan Hoërskool Oos-Moot in Pretoria gematrikuleer het, het sy haar B.Com- graad by die Universiteit van Pretoria behaal. Sy het vir ʼn geruime tyd in die bankwese gewerk en terselfdertyd haar BLC LLB buitemuurs verwerf. In 2001 het sy die bankwese verlaat. Karin is tans ook ʼn tutor en nasiener by Unisa in die vakrigting, Erfreg. Haar man, Cobus, is ʼn landskapsargitek en sy behartig die boeke van hulle besigheid, Down2Earth Garden Creations. Die twee woon in Moreletapark in Pretoria. Karin is dankbaar vir hul tuin, ʼn ware lushof met baie plante, voëls en skoenlappers – alles haar man se handewerk. Benewens boeke is haar ander belangstellings fliek, kook en hekel.

Vyf kitsfeite oor Karin

  • Karin is een van die administrateurs van die gewilde Facebookblad, Lekkerlees Boekrak.
  • Sy hou baie van katte en by die huis is daar vier katte wat met hulle rustigheid en liefdevolle aanvaarding baie vreugde verskaf.
  • Karin het altyd hoofsaaklik Engelse boeke gelees, maar sedert haar betrokkenheid by Lekkerlees Boekrak het sy die wonderlike ryk skat van Afrikaanse skrywers en boeke ontdek.
  • Sy hou daarvan om saam met goeie vriende te kuier, veral die wat haar toelaat om haarself te wees en wie se geselskap sy opbouend vind.
  • Sy verkies misdaadfiksie en outobiografieë en is van mening dat die Afrikaanse skrywers, in albei hierdie genres, ʼn kortkop voorloop.

Karin oor Afrikaans

Die wonderlike idiome en beskrywende woorde wat jy in Afrikaans raakloop, maak Afrikaans vir Karin onmisbaar. Sy beskou Afrikaans se diversiteit en aanpasbaarheid as ʼn besonderse eienskap van die taal.

Karin se projekte

Karin het in Augustus 2013 aangesluit by die Facebookblad, Lekkerlees Boekrak. Hierdie Facebookgroep, met meer as 8 000 lede, is ʼn klomp boekwurms wat lewendige gesprekke oor die nuutste boeke, of besonderse boeke, voer. Die groep is in 2008 deur die skrywer, Marion Erskine, gestig en heelwat Afrikaanse skrywers is deel van die groep. Die blad het heerlike kompetisies en selfs skryfgeleenthede vir aspirant-skrywers. Karin sê haar persoonlike doelwit vir Lekkerlees Boekrak is om mense nie net aan te moedig om te lees nie, maar veral om méér Afrikaans te lees.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan: finances@d2e.co.za
Gaan loer in by https://www.facebook.com/groups/lekkerlees/