Jolene Potgieter: Gedrewe om ’n verskil te maak

Aangename kennis

Jolene Potgieter is iemand met ’n onuitblusbare lus vir die lewe en nuwe avonture. Sy het grootgeword in Kemptonpark waar sy aan Hoërskool Kemptonpark gematrikuleer het. Na skool het sy eers ’n oorbruggingsjaar gevolg en in die tydperk is sy opgelei as ’n lugwaardin. In plaas daarvan om dadelik haar vlerke te sprei, het Jolene eers ingeskryf vir ’n B. Ed-graad aan die Universiteit van Pretoria en sy is tans in haar finale jaar. Jolene beplan om na afloop van haar studies as lugwaardin te gaan werk, of dalk in die Midde-Ooste of Argentinië te gaan skoolhou. Om ’n verskil te maak, altyd te leer en baie te reis, is dinge waarna sy streef.

Vyf kitsfeite oor Jolene

  1. Jolene was tydens haar skooljare lid van die Oos-Randse jeugkoor. Die afgelope drie jaar was sy deel van Huis Vividus, ’n Tuks-dagkoshuis se Sêr-groep.
  2. Sy is ’n bedrewe klopdanser.
  3. Jolene is dol oor kosmaak en kyk graag die na die meestersjefs op televisie om meer te leer.
  4. Haar liefde vir kinders het haar gemotiveer om die Onderwys as studierigting te kies.
  5. Jolene reken om te reis is een van die beste maniere om jouself te leer ken, want dis eers wanneer jy buite jou gemaksone is, wat jy besef wie jy werklik is.

Hoe voel sy oor Afrikaans?

Afrikaans is vir haar kosbaar en die ideale medium om haarself goed in uit te druk. Met reise in die buiteland kom sy elke keer agter watter gemis dit is om nie Afrikaans te kan praat nie. Vir haar is Afrikaans vol kleur en geen ander taal sal ooit die plek van Afrikaans in haar lewe kan inneem nie.

Haar projek

Jolene is een van die medestigters van die Instagramblad @reisafrikaans. Sy en Lara Erasmus wat die blad saam bedryf, is reeds besig met die ontwerp van ’n webblad. @reisafrikaans neem jou op opwindende reise en veral jongmens kan hier meer leer oor interessante en opwindende lewensroetes. Op die blad nooi hulle mense om foto’s, verhale, vrae en wenke per e-pos of Instagram te stuur.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan jolenepotgieter0608@gmail.com of laarenjo@gmail.com.

Volg die Twitterrekening: @reisafrikaans