Johny Klein: Akteur in murg en been

Aangename kennis

Reeds in die laerskool op Groblershoop het Johny Klein geweet hy wil eendag ʼn akteur word en die gediggie wat hy in Graad 1 voorgedra het, kan hy nou nog woord vir woord onthou. Johny het grootgeword in Groblershoop, ʼn klein plekkie tussen Upington en Prieska in die Noord-Kaap en het aan Hoërskool Groblershoop gematrikuleer. Hy het vir drie jaar drama aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie studeer. Hierna het Johny vir meer as tien jaar landwyd rondgetoer met Opvoedkundige Teater vir laer- en hoërskole. Al woon hy nou al vir jare in Pretoria en Johannesbrug, bly hy in wese ʼn plattelander en is die stad vir hom te vinnig, te gevaarlik en te besig. Johny se eerste groot televisierol was in Villa Rosa en hy was sedertdien in verskeie ander sepies en televisiereekse te sien.

Vyf kitsfeite oor Johny

  • Hy het al die meeste groot karakters, Liewe Heksie inkluis, in verskillende Liewe Heksie-produksies vertolk. Hy lag en sê die rol van die Feëkoningin het hom nog altyd ontwyk.
  • Hy het in 2017 die pragtige Amraal deur Marinda van Zyl op RSG voorgelees.
  • Hy het kameerolle in flieks soos O Schuks… I’m Gatvol, Spiertier en Poena is Koning vertolk.
  • In die musiekproduksie, Flennie die Snare, wat die lewe en werk van Boerneef huldig, vertolk hy agt verskillende karakters.
  • Johny was vir drie jaar in ʼn ry een van die beoordelaars by die ATKV se Tienertoneelkompetisie.

Johny oor Afrikaans

Afrikaans is ʼn besondere taal, sê hy, juis omdat dit soveel sê-goedjies het. Wat vir hom ook wonderlik is, is dat elke streek se mense ʼn ander tipe Afrikaans praat. Hy wil graag sien dat Afrikaans net sal bly groei.

Sy projek

As akteur doen Johny meesal net Afrikaanse werk en word gereeld op radiodramas en vervolgverhale van RSG gehoor. Hy geniet dit geweldig om met kinders te werk en doen graag boekvoorlesings by laerskole, help skole met voorbereiding vir toneelkompetisies en tree ook as beoordelaar by sulke toneelkompetisies op. In 2017 was Johny te sien in drie verhoogproduksies van Lefra Produksies: Flennie die Snare, Fiela se Kind en My man se skelmpie se skelmpie se vrou. Vir hom het ʼn droom waar geword toe hy teenoor Shaleen Surtie-Richards as Selling Komoetie in die verhoogproduksie van Fiela se Kind kon speel. Hierdie produksie is steeds oral by feeste en in teaters te sien.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan kleinjohny@gmail.com en besoek https://www.facebook.com/johny.klein