Johan Jack Smith: ’n Woordenaar in murg en been

Aangename kennis

Johan Jack Smith is passievol oor kuns en die alternatiewe Afrikaanse literatuur en woordkuns. Hy het op die Vrystaatse Goudvelde grootgeword en in Virginia gematrikuleer. Na skool het hy Grafiese Kuns en Ontwerp studeer aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein. Sy projek vir sy M-graad was die grafiese roman, Die Avonture van Malboer. Johan het ’n draai in die koerantwese gemaak met poste by die Scoop en Daily Sun. In dié tyd het hy ook boekresensies vir Rapport en Beeld gedoen en hy is mettertyd aangestel as die boekeredakteur van Taalgenoot. In 2016 is Johan aangestel as die redakteur van Taalgenoot. As redakteur is Johan altyd op soek na die stories van randfigure en mense wat hul merk op ’n alternatiewe kreatiewe wyse maak. Hy is verloof aan Almerie Kirsten en is die pa van ’n peuter, Rijger.

Vyf kitsfeite oor Johan

  1. In 2008 as student in Bloemfontein het Johan die alternatiewe musiekgroep Volkspeler begin wat albums soos 11 Dodelike Sondes en Die Boksburg Bebop bekendgestel het.
  2. Johan skryf rubrieke vir Netwerk 24 en die reeks wat hy geskryf het oor sy meisie se swangerskap, Bekentenisse van ’n (toekomstige) rocker-pappie, het groot byval by lesers gevind.
  3. Die Avonture van Malboer I en II is ’n fotoverhaal wat afspeel in ’n post-apokaliptiese Suid-Afrika.
  4. Oorspronklikheid en innovasie maak hom altyd opgewonde.
  5. Die boek Beertjie en sy Boytjies van R.R. Ryger wat hy as hoërskoollaaitie in Hennenman-biblioteek ontdek het, het hom aan die lees gekry.

Johan oor Afrikaans?

Johan sien Afrikaans as ’n lewende organisme wat deel is van sy menswees. Hy word veral geraak deur die mense wat die taal praat, veel meer as die taal self.

Sy projek

Johan is nie net die redakteur van Taalgenoot nie, maar is ook aktief betrokke by Afrikaanse woordkuns. Hy is een van die stemme in Woordenaars. Hierdie groep bestaan uit Johan, Paul Riekert, Gérard Rudolf, Niel van Deventer en Kabous Verwoerd. Hulle gebruik ’n tipe anargistiese Afrikaanse poësie as ’n manier om hul siening van die wêreld daarbuite, veral die Suid-Afrikaanse samelewing, weer te gee. Johan is ook tans besig om saam met Johan Malan te werk aan Zumtopia, ’n elektroniese rock protesalbum. Hierbenewens skryf hy aan ’n roman en werk hy ook aan ’n digbundel.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Johan by JohanS@atkv.org.za
Besoek https://www.facebook.com/Woordenaars-791087091058824/