Johan Esterhuizen: Musiek en kultuur praat die taal van sy hart

Aangename kennis

Johan Esterhuizen se liefde vir Afrikaans is reeds in sy ouerhuis aangemoedig toe sy ouers hom voorgestel het aan die wonderwêreld van Afrikaanse literatuur. Hy het op die Vrystaatse Goudvelde grootgeword en aan Hoërskool Goudveld op Welkom matrikuleer. Hierna het hy aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer en ’n honneursgraad in Kommunikasiekunde behaal. Johan was vir drie jaar die Toer- en Konsertbestuurder van die Drakensbergse Seunskoor. Die lewe in die berge het mettertyd te eensaam geword en hy het teruggekeer na Bloemfontein en as bestuurder van Nu Metro in Loch Logan gewerk. In 2006 het ’n droom vir Johan waar geword toe hy by die ATKV aangestel is as projekorganiseerder vir ATKV-Applous, ATKV-Koorfees en Entrepreneurs vir Volwassenes. ’n Opwindende projek wat mettertyd bygekom het, is die ATKV-Crescendo Kreatief Liedjieslypskool met Lize Beekman en Christa Steyn as destydse aanbieders. Christa is intussen oorlede.Tans is Johan die Bestuurder van Jeugprojekte by die ATKV. Johan is besonder lief vir reis, nasionaal en internasionaal en glo dat jou siel verryk word wanneer jy verskillende kulture en leefwyses beleef. Mooi musiek lê hom baie na aan die hart, veral goeie Afrikaanse musiek en hy is dankbaar dat dit ’n belangrike deel van sy werk vorm.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Johan is iemand wat trots Afrikaans is, maar hy geniet dit om as deel van sy werk prakties te sien hoe inklusief Afrikaans as taal kan wees en jongmense van verskillende kulture heerlik in Afrikaans te sien saamgesels of sing.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Johan sê hy was bevoorreg om in ’n Afrikaanse huis groot te word, in Afrikaans skool te gaan en op Kovsies in Afrikaans klas te draf. As deel van sy werk by die ATKV pak hulle jaarliks ’n verskeidenheid jeugprojekte in Afrikaans aan.

Sy projek:

Van die ATKV-projekte wat deel vorm van die jeugprojekte is die ATKV-Jeugleiersimposium, ATKV-Jeugberaad, ATKV-Redenaars, ATKV-Debat, ATKV-Applous, ATKV-Animato, ATKV-Tienertoneel, ATKV-Handevat, ATKV-Toneelteksprys, Komposisie Kompetisie en Rapport ATKV-Korekompetisie. Die jaarlikse Rapport ATKV-Korekompetisie tydens die Suidoosterfees is ‘n hoogtepunt op Johan se kalender. Hierdie kompetisie is vir enige koor wat nie ’n professionele koorleier het nie, plaaskore, dameskore, mannekore en ook jeugkore en daar hoor jy musiek uit die hart!

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan: JohanE@atkv.org.za of skakel hom by 011 919 9059