Johan Erickson is dolgelukkig agter ’n radiomikrofoon

Aangename kennis

In sy grootwordjare in die Moot in Pretoria het Johan Erickson geleer dat jy met jou optrede en bereidwilligheid om deel te neem, ʼn verskil kan maak in mense se lewens. Sy laerskooljare het hy by Laerskool Mayville deurgebring en aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer. Na matriek het hy as junior bestuurder by ʼn vervaardiger en verspreider van gespesialiseerde deurhandvatsels en deurslotte begin werk. Daar het hy interne opleiding ontvang in die veld van menslike hulpbronne, bestuursvaardighede, bemarking en openbare betrekkinge. Johan het ook sy eie maatskappy JCOR Media gestig waarmee hy as klank- en beligtingsingenieur in die vermaaklikheidbedryf optree. Hy het ook later sy kennis uitgebrei en behartig ook Media-bemarking en openbare betrekkinge. In 2012 het Johan die eerste tree in sy radioloopbaan gegee by Waterberg Stereo, ʼn radiostasie wat in Thabazimbi en Nylstroom uitsaai. Sedert 2015 is hy betrokke as vryskutomroeper by Groot FM 90.5. Johan is tans besig met ʼn B.Com- graad in Ekonomie en Regte aan Akademia. Musiek, mense en gesels is sy groot passies.

Vyf kitsfeite oor Johan

  • Johan is mal oor katoeters en is die hele tyd besig om met een of ander nuwe tegnologiese gebruiksartikel te eksperimenteer.
  • Johan kampeer graag en is kort-kort besig om iets te maak of te bou om die kampeerdery meer gerieflik te maak.
  • Johan hou van positiewe denke en bied graag motiveringspraatjies vir skoliere en jongmense aan en tree dikwels as seremoniemeester op.
  • In 2016 en 2017 was hy die hoofafrigter van Laerskool Mayville se 1ste krieketspan.
  • Johan lewe volgens die woorde van Ben Sweedland: “Sukses is ʼn reis, nie ʼn eindbestemming nie.”

Johan oor Afrikaans

Afrikaans laat Johan se hart vinniger klop, want dis die taal waarin hy leef, waarin hy koeksisters en boeretroos geniet en waarin hy bid. Hy hou daarvan om die nostalgiese Afrikaanse voetspore van ons voorvaders te bewonder.

Sy projek

By Waterberg Stereo het Johan weekliks die Top 20 uitgesaai. By Groot FM 90.5 het hy al onder meer die volgende programme aangebied: Gister se Grotes, Groot Sports, Die I Tunes show en Tydmasjien. Johan wil graag sien dat Afrikaanse woorde, sêgoed, idiome en uitdrukkings groter erkenning moet kry. Met sy praatjies en aanbiedings op die radio of televisie wil hy graag die jongklomp inspireer om eerder vir Afrikaanse woorde te soek, want vir elke Engelse woord is daar ʼn mooi Afrikaanse alternatief.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan johanerickson01@gmail.com
Volg hom op Facebook: https://www.facebook.com/ericksonomroeper/
https://www.facebook.com/jcormedia/